Oudste briefie-in-ʼn-bottel gevind

Oudste briefie-in-‘n-bottel in Australië gevind Foto: KymIllman.com

Die wêreld se oudste briefie-in-ʼn-bottel is onlangs op ʼn strand in die weste van Australië gevind, 132 jaar nadat dit in die Indiese Oseaan gegooi is as deel van ʼn eksperiment oor seestroompatrone, volgens kenners wat dit ʼn “buitengewoon seldsame vonds” noem.

ʼn Verslag deur die Western Australia Museum beskryf hoe die bottel gevind is en wat die goed bewaarde boodskap onthul oor wetenskap en geskiedenis.

Die donkergroen glasbottel is in Januarie noord van Perth gevind deur Tonya Illman, volgens ʼn persverklaring wat die museum Dinsdag uitgereik het. Illman en ʼn vriendin het op die strand gestap toe hulle die bottel naby haar seun se motor opgemerk het.

“Dit was só mooi bottel, dat ek dit opgetel en gedink het dit sal mooi lyk op my boekrak,” verduidelik Illman. “My seun se meisie het die briefie raakgesien toe sy die sand wou uitgooi. Die briefie was klam, styf opgerol en met ʼn toutjie vasgebind. Ons het dit huis toe gevat en uitgedroog. Toe ons dit oopmaak, en ons gesien iemand het in Duits daarop geskryf. Die letters was baie dof.”

Ná ʼn bietjie navorsing en baie opwinding, en omdat die gesin nie geweet het of dit geskiedkundig waardevol of bloot net ʼn poets was nie, het hulle dit na die museum gebring.

Kenners het die besonderhede van alles opgeteken – van die bottel wat oopgemaak is tot die toutjie waarmee die geel papiertjie vasgebind is. Daar was nie ʼn kurkprop nie en navorsers vermoed dit het dalk uitgedroog, gekrimp en in ʼn stadium losgekom. Omdat die papier so goed bewaar is, glo hulle die bottel moes ʼn jaar nadat dit in die water gegooi is, uitgespoel het op die strand en het meer as 100 jaar in klam sand gelê.

Daar is twee belangrike besonderhede op die briefie: die datum 12 Junie 1886 en die naam van die skip, “Paula”.

Met behulp van owerhede in Nederland en Duitsland, het dit aan die lig gekom dat die bottel deel was van ʼn langtermyn Duitse Vlootnavorsingsprogram wat wêreldwye seestrome ondersoek het. ʼn Inskrywing in die Paula se meteorologiese joernaal, deur die kaptein, bevestig dat die bottel op dieselfde datum as dit wat op die nota geskryf staan, in die see gegooi is. Die handskrif is ook dieselfde as syne – selfs met die ekstra krul in sy C’s.

Die museum loof die wetenskaplike belang.

“Seestrome word nie heeltemal begryp nie,” verduidelik die museum. “Die behoefte om langtermyn klimaatsveranderingpatrone te verstaan is ook ʼn rede waarom datastelle soos die inligting wat in die Paulse se meteorologiese joernaal en ander 19de eeuse skeepsjoernale opgeteken is, by wêreldwyd klimaatmodelle gevoeg word.”

Die verslag verbind die bottel met die Duitse wetenskaplike George von Neumayer wat ʼn botteleksperiment van 1864 tot 1933 uitgevoer het. Duisende bottels met briefies binne-in is in die see gegooi. Daar is van skeepskapteins verwag om inligting aan die een kant in te vul, en diegene wat die bottels vind, moet die agterkant invul en dit dan besorg aan die Duitse Vloot in Hamburg of die naaste Duitse konsulaat.

Slegs 662 briefies is teruggestuur.

Voor die jongste vonds, is die laaste een in Januarie 1934 gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Spike ·

Ek wil graag die volgende deel. September vakansie 2014 was ons in Balito. Die aand voor ons terug sou keer huistoe het my 2 dogters elkeen ñ briefie in ñ 2L bottel gesit en in die see gegooi. In Mei 2015 kry hulle ñ poskaart uit Hamburg Duitsland vanaf ñ jong dame wat die bottel daar opgetel het waar die Elbe rivier by Hamburg in die see mond. Ons het ñ koerant joernalis gebel en sy het weer ñ kundige by Kovsies gevra of dit kan gebeur. Die persoon het gesê dat dit heeltemal moontlik is, rakende die tydsduur en seestrome. Dit was werklik vir ons een van die mooiste gebeurtenisse in ñ lang tyd. Die kinders en die Duitser praat nog gereeld op sosiale media. Sy het ook ñ kosbare boek gemaak oor die bottel

VanAfrika ·

Ek hoop hierdie mense word vergoed vir hulle fondse, So iets is prysloos en antiek, hulle kon dit maklik in die asblik gegooi het as hulle nie die waarde besef het nie.

Mien ·

Dankie dat julle moeite doen om sulke mooi stories te plaas. Het dit nodig te midde van al die negatiewe nuus gebeure.

Genoeg ·

Vanafrika.. ek dink net die feit dat hulle erken is in die koerante en deur die museum en dat hul name daar virewig is, is al genoeg beloning vir hul vonds. Daar hoef nie altyd noodwendig monitêre beloning te wees nie.

Vraagteken ·

Daardie vriendin waarna verwys word is Grace Ricciardo. Grace Ricciardo is die ma van Daniel Ricciardo (die Red bull formula 1 renjaer).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.