Tiffany Two, die oudste kat in die wêreld volgens Guinness World Records, het Vrydag haar 27ste verjaarsdag gevier.
Sy is op 13 Maart 1988 in San Diego in Kalifornië gebore en haar eienaar, Sharon Voorhees, het haar by ʼn plaaslike dierewinkel vir $10 aangeskaf toe sy ses weke oud was.
Volgens Guinness is haar ouderdom gelykstaande aan 125 mensjare.
Ondanks haar ouderdom is Tiffany Two nog nie sieklik nie, het Voorhees gesê. Sy kan nog trappe op- en afklim en sy kan nog goed sien en hoor. Sy sukkel net soms met hoë bloeddruk.
Tiffany Two is egter net die oudste kat wat nog lewe. Volgens Guinness is die oudste kat ooit Creme Puff wat op 3 Augustus 1967 gebore is en op 6 Augustus 2005 dood is in die ouderdom van 38 jaar en drie dae.
Lees meer: Guinness World Records