Ouers kry goeie nuus ná moord op kinders

Leo en Lulu

Leo en Lulu

ʼn Ouerpaar van New York het aangekondig ʼn pienkvoet is op pad, drie jaar ná die gru-moord op twee van hul kinders.

Die Mirror berig dat Marina en Kevin Krim in Januarie die ouers van ʼn babaseuntjie gaan word. Twee van die egpaar se kinders, Lulu (6) en Leo (2), is in Oktober 2012 vermoor, glo deur hul oppasser.

Marina en die egpaar se ander dogter, Nessie, wat toe drie jaar oud was, het op Lucia en Leo se lykies in die bad by hul woonstel in New York afgekom. Hulle is met ʼn skerp voorwerp doodgesteek.

Die Krim-egpaar saam met Leo, Lulu en Nessie

Die Krim-egpaar saam met Leo, Lulu en Nessie

Die kinders se oppasser, Yoselyn Ortega, het op die badkamervloer gelê. Sy het ʼn steekwond aan haar nek gehad, wat sy glo self toegedien het.

Ortega (53) het vroeër vandeesweek in die hof verskyn op aanklag van moord. Sy het glo vroeër aan die owerhede gesê sy het die kinders leed aangedoen weens finansiële probleme. Sy was glo ook kwaad omdat sy gevra is om die woonstel skoon te maak.

Marina en Kevin het intussen gesê Nessie en hul ander kind, Felix (2), sien uit na die geboorte van hul nuwe boetie. “Met elke nuwe baba voel ons ʼn spesiale en nader band aan Lulu en Leo, wat ʼn konstante teenwoordigheid het in hul boetie en sussie se voorkoms, gebare en stemme.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.