Oues ontsnap om ‘heavy metal’-konsert by te woon

Feesgangers by Wacken Open Air (4 Augustus 2018) (Foto: Daniel Reinhardt/dpa via AP)

Twee mans, onderskeidelik 58 en 59 jaar oud, het uit ʼn tehuis ontsnap om een van die grootste “heavy metal”-konserte in Duitsland by te woon.

Peter Berndt, woordvoerder vir die Itzehoe-polisie, het Dinsdag gesê die twee mans het ʼn tehuis vir persone met geestesgesondheidskwessies ontsnap om Vrydagaand die Wacken Open Air-fees by te woon.

Feesgangers het die polisie ontbied nadat hulle die twee “hulpelose, gedisoriënteerde en besope” twee mans gevind het wat vir ʼn bus gestaan en wag het. Die busdiens is egter Saterdagoggend om 03:00 reeds opgeskort.

Die polisie het hulle na ʼn noodhulpstasie gebring en het hulle omstreeks 06:30 die oggend huis toe gestuur in ʼn taxi wat die tehuis gereël het. Die tehuis is ongeveer 30 km van die feesterrein geleë.

Berndt het gesê die twee mans het vermoedelik aanvanklik te voet en met openbare vervoer tot by die fees gekom, alhoewel dit nie duidelik is wanneer hulle in Wacken aangekom het en hoe lank hulle by die fees was nie.

Owerhede het aan die Deutsche Welle gesê die tehuis se personeel het die twee mans as vermis aangemeld.

Wacken Open Air, wat as die “Metal Mecca” beskryf word, lok jaarliks ongeveer 75 000 besoekers van reg oor die wêreld, aldus die fees se Facebook-blad. Kunstenaars soos Walking Dead on Broadway, Judas Priest, Arch Enemy, Cannibal Corpse en Die from Sorrow het vanjaar by die fees opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Nettie ·

@Is mens oud op 58? – op dáái vraag sal menigte mense vir jou sê: “Nee!”.

Maar ék reken mens is so oud soos jy voel. Op 47, voel ek STOKOUD. En ek wil nie ouer as 50 word nie, so ek hoop my toutjie word voor dan geknip.

Dan is ek ook een van dié wat meen dat sekere dinge op ‘n sekere ouderdom nie meer gepas is nie, soos ou(er) mense wat nog motor bestuur, maar dan teen 20 km/uur in die regterkantse baan voor jou sit en aankruie.

Maar ek hoop dié twee “ou” mense, wie klaarblyklik aan die een of ander geestestoestand ly, het hulself aljimmers gate uit geniet en dat hulle nog tot op 80-jarige ouderdom staaltjies sal kan sit en vertel oor daardie dag wat hulle ‘ontsnap’ het om ‘n “heavy metal” konsert te gaan bywoon.

Naas Vermaak ·

Van dag 1 af is mens oud. Dan kry jy ou mense op 20 en jongmense van 80…. Shaun is bietjie onwys so moeilik om sy ouderdom te skat. Nerens in die berig word van oumense of ouetehuis gepraat nie , slegs tehuis. Dit was bloot maar twee laaities van 58 en 59 wat besig was om hulle lewe te lewe…nie wat die samelewing van hulle ouderdom verwag nie – goedgedaan!!

Hahaha Wols ·

Dit is seker so! Ek het nog altyd gedink dat 98 oud is!!!!!Iedergeval ek hoop hulle het hulle self geniet. Alhoewel dit vir my klink na ‘n kakafoniese geraas – hehehe

E.K. die eerste ·

58 en 59 is GLAD nie oud! Dis net aangenaam middeljarig! Ek glo hul het hulself vreeslik geniet!

SNEL ·

Ek dink jy kry net ou mense as jy jonk is, oor n sekere ouderdom is niemand meer oud nie en bejaardes kry jy net as hulle oor 80 is. My ma egter is 74, sy gaan lê besoek af een keer n week by n ouetehuis (sy ken niemand daar nie, maar glo hulle kort geselskap) , soos sy sê, sy gaan by die oumensies kuier vandag, en as sy daar kom dan is dit, hoe gaan dit met tannie vandag. So ja, miskien voel ons altyd jonk vir onsself en word net ander oud. Dit lyk my kan ook gebeur. Hierdie 2 van 58 en 59 jaar voel duidelik nog soos tieners. Hoop ook hulle het hulle geniet, veral as mens so baie moeite doen om daar te kom.

Elsa ·

Enige persoon is so oud soos jou liggaam jou toelaat om te wees.

Casper Labuschagne ·

Dit herinner my aan ‘n plaaslike gebeurtenis. Enkele dekades gelede was pasiënte wat by die werkplek beseer was, behandel by die Milpark hospitaal in Johannesburg, wat langs ‘n bekende hotel was. Sulke pasiënte is gewoonlik fiks en gesond, maar met ‘n arm of been in gips of ‘n verband om die kop. Dit was destyds nie ongewoon nie dat die hotel teen sluitingstyd die hospitaal bel vir die portier om ‘n groot groep van hul pasiënte kompleet in hul kamerjaponne en ledemate in gips maar soms ook met ‘n drup in die hand, te kom haal omdat daardie pasiënte nie meer in ‘n toestand is om self terug te keer na die hospitaal nie.

Vermeendes ·

Ek raak so aan 60 en ek geniet nog my heavy metal, wat kan ek se, as jy nie in daai era groot geword het nie dan sal jy dit nie verstaan nie.

ChrisE ·

Ek het die keuse om oud te word of groot te word gemaak. Ek wil nie sê jy moet onvolwasse optree of onnosel goed aanvang nie, maar jonk van gees is niks daarmee verkeerd nie. Jy kry jonger mense wat oud optree, lewensmoeg, sielsmoeg en gesindheidsmoeg. Daar is niks met die manne se optrede fout nie. Mens moet net nie jou lewensvreug verloor nie.

Wonder ·

Hoekom praat almal oor ouderdom of oud. Die berig maak geensins melding van ‘n ouetehuis of “oud” nie. Jy raak seniel as jy nie kan lees nie, ja.

Krewel ·

Hmm…Lees die opskrif van die berig. Jy raak seniel as jy goed miskyk ook.

Ian ·

Ja, behalwe vir die opskrif… Persoonlik gebruik ek ‘n sterkte “2” leesbril…

Sophia ·

Neeee op 58 en 59 is hulle beslis nie oud nie – Let Wel dis mans en nog nie volwasse nie die dat hulle nog tienerdinge wil doen

Eish ·

Dit verbasend dat nie meer mense ontsnap het uit die “tehuis vir persone met geestesgesondheidkwessies” nie. Dink hul moes in hul element gewees het.
Met kunstenaars soos:
Cannibal Corpse
Arch Enemy
Judas Priest
Die from sorrow ensovoorts
behoort slegs diegene met geestesgesondheidskwessies toegelaat te word.

nannie ·

Ek is 61 jaar jonk en is glad nie oud vir myself nie. Werk nog, loop in die oggend tot by die taxi rank, doen my eie huis, was en stryk werk. Maak nog my kleindogter van 13jaar groot. Hou van, so nou en dan lekker harde musiek. Ek het al gesien mense wat in die 30’s is is stok oud want hulle kla oor alles en moeg vir die lewe. So jy is so oud soos jy voel. viva harde musiek.

Wag en sien ·

Mense.. julle wat dink iemand is oud en oor die muur op 58 en 59…. Wag en sien. Ek het altyd gedink 45 is “bejaard” en ek wil tog nooit ouer as 45 word nie. Nou is ek al 62 en raai wat? Dit lyk glad nie so sleg van hierdie kant af nie. Ek kyk nog steeds deur die oë van iemand in sy 20’s. Die gees raak mos nooit oud nie. :-)

Ek kan verstaan dat daai 2 dit gedoen het. Ek sou ook.

Andre Pienaar ·

Ek is 58 jaar jonk en nog steeds ‘n metal head. Wacken is “awesome” sou lekker wees om dit te kon bywoon :)

Nooit te oud ·

Mens is nooit te oud nie!!!!! Hoop hulle het dit geniet en doen dit sommer weer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.