Ouma per ongeluk in nuwe trourok begrawe

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska/Pixabay)

Volgens ʼn ouvroustorie moet ʼn bruidegom nie die bruid se trourok voor die spesiale dag sien nie – en dit is presies hoekom ʼn voornemende bruid besluit het om haar rok iewers weg te steek waar niemand dit sal sien nie.

“Ek het gedink ek het al alles gesien, maar dit is nie waar nie,” sê Kasia, die eienaar van ʼn bruidsboetiek, Kasia’s Bridal. Sy het op TikTok die storie vertel van ʼn groot misverstand wat sou beteken dat een van haar kliënte sonder ʼn rok op die groot dag sou sit.

Kasia verduidelik dat sy ʼn oproep van ʼn ontstelde bruidegom gekry het. Hy wou weer sy aanstaande se rok bestel. Sy het eers gedink dit is moontlik net verstellings aan die rok, maar hy het benadruk dat hy inderdaad die hele rok presies net só weer wil bestel.

Die bruid se broer het uiteindelik aan Kasia verduidelik die bruid het die rok in haar ma se kas gebêre – iewers waar dit veilig sou wees en waar die bruidegom nie per ongeluk daarop sou afkom nie.

Die ouma het egter onlangs gesterf en sy wou in haar trourok begrawe word, net soos wat haar man in sy aandpak begrawe is.

Die aanstaande bruidegom en die bruid se broer is gestuur om die rok uit die kas te gaan haal en hulle het onwetend die nuwe rok uitgehaal (hulle het nie geweet die bruid se trourok is ook in die kas nie).

Omdat die troue binne vyf maande plaasvind, het die vervaardiger egter laat weet dat die rok nie betyds gereed sal wees nie, omdat daar spesiale wysigings en verstellings aan die rok gemaak is.

“Hulle is mans – hulle het nie van beter geweet nie. Hulle het glad nie geweet daar is meer as een trourok in dieselfde kas nie!”

Die twee mans het die rok by die begrafnisondernemer afgelaai en nie weer daaraan gedink nie. Toe hulle hul fout ontdek het, het hulle dringend by Kasia aangeklop en gesê hulle is op soek na dieselfde rok omdat die bruid nie weet dat haar rok eintlik ses voet onder grond saam met haar ouma begrawe is nie …

Die bruid is uiteindelik in kennis gestel en sy was ontsteld, maar die storie het ʼn gelukkige einde. Die vervaardiger het ʼn ander rok vir haar voorgestel en sy was dol daaroor!

@kasias_bridal

#storytime #weddinghorrorstory #weddingtok #weddingtiktok #drama #bridaltok #bridaltiktok #wedding #weddingdress #weddingdrama #kasiasbridal

♬ original sound – Kasia’s Bridal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Dis eintlik snaaks. Maar ook nie.
Ek is bly sy kon ‘n ander rok kry.

Nadia ·

Regte rok het sy wel op die einde gedra. Als gebeur vir n rede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.