Pa gekap wat seun se geboortedatum wou verander

Argieffoto (Foto: reneeellisdesigns/Pixabay)

Die pa van ʼn pasgebore babaseuntjie word veroordeel omdat hy sê hy het “die mag” om sy kind se geboortedatum te verander.

Die man het hom na Reddit gewend om ander gebruikers se terugvoer te kry oor die voorval, maar hy het waarskynlik nie besef hoeveel negatiewe kommentaar hy sou uitlok nie.

Hy het verduidelik hy en sy vrou se eerste kind is Oujaarsaand om 23:05 gebore. ʼn Verpleegster het hom gevra om ʼn vorm te voltooi om die kind se besonderhede aan te dui en toe hy by “datum en tyd van geboorte” kom, het hy besluit om dit aan te dui as 1 Januarie om 00:05, “want een uur se verskil is nie ʼn groot probleem nie”.

Die verpleegster het egter gesê die besonderhede moet die presiese datum en tyd weerspieël en die twee het begin stry, omdat hy aangevoer het hy het die mag om dit te doen, omdat hy die kind se pa is.

“Ek het met haar gestry en gesê sy maak ʼn berg van ʼn molshoop. Dit is onregverdig teenoor my seun, want hy het slegs een uur lank in 2020 geleef. Boonop was 2020 ʼn aaklige jaar en ek is dankbaar dit is uiteindelik verby en ek wil nie hê my seun moet daarmee vereenselwig word nie, so 2021 maak net meer sin.”

Die verpleegster het egter verduidelik hy is besig met bedrog en dit is ʼn groot kwessie want dit is nie net ʼn uur nie, hy verander ook die datum.

“Ek het vir haar gesê ek is sy pa en ek het ʼn sê en ek aanvaar volle aanspreeklikheid vir enigiets wat later sou gebeur. Sy het egter gesê dis nie hoe dit werk nie en dat die vorm nie aanvaar sou word nie, omdat dit vals inligting bevat.”

Die man sê die verpleegster het toe nog persone, insluitend die pediater, by die gesprek betrek. “Hy het my geminag deur sy stem te verhef. Ek het vir hulle gesê ek is die ouer en ek het die mag. Hulle het uiteindelik die vorm gevat en wou nie toelaat dat ek dit invul nie. My vrou het gesê ek stel haar in die verleentheid en dat ek simpel is om ʼn groot kwessie daarvan te maak.”

Volgens hom het sy familie ook van die voorval te hore gekom en hom ook veroordeel dat hy “hulle vreugde bederf” en dat hy spanning vir sy vrou veroorsaak. Sy broer stem egter saam dit is “belaglik” dat daar so groot fokus op ʼn spesifieke tyd geplaas word en bygevoeg die baba “is gebore in 2021 want hy het ʼn hele jaar om te leef, maar slegs een uur van 2020”.

Gebruikers op Reddit het nie die man se mening ondersteun nie. Een persoon het geskryf: “As ʼn ouer het jy nie mag oor ruimte en tyd nie. [Jou seun] se geboortedatum en tyd is ʼn feit, dit is nie ʼn mening nie.”

ʼn Tweede het skertsend bygevoeg: “Ek is in my 30’s, maar ek het die hele jaar om te leef. Beteken dit dus dat ek ook in 2021 gebore is?”

Die man het later bygevoeg hy het sy pa en ʼn vriend in 2020 aan die dood afgestaan en hy wou net van die jaar vergeet.

Nog ʼn gebruiker het wyse raad gehad: “Daar is heelwat aaklige dinge wat in 2020 met jou gebeur het, maar een goeie ding het ook gebeur. Jou seun is in 2020 gebore.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Spekkies ·

Ek sou dit dalk ook gedoen het. Die ou se logika klink vir reg.

Ellie ·

Laaste paragraaf som alles mooi op! “Jou seun is gebore in 2020”

Thinus ·

Ek stem saam dis dan juis een wonderlike ding wat in 2020 gebeur het

Chantel ·

Ag twak man, daar is bitter baie mense wat hulle kinders se geboortedatums verander.

AH ·

Ons kan nie die toekoms bepaal nie. Hanteer elke dag met dankbaarheid en grasie. Dit is nie ‘n reg nie maar ‘n voorreg….

Elfrieda ·

Ek as gesondheidswerker moet verklaar dat ek met die ma gewerk het en dat die baba gebore is op die dag soos aan gedui. My handtekening is daarop. Ek mede-pleeg dus bedrog as dit nie die korrekte datum is nie.

Meer as 1 ouer het my al gevra of hul datum as 1 Jan kan aandui, en ek verduidelik ook dat ek dan nie daarby die verklaring sal kan teken nie want dis nie korrek nie. Die pa vra dan ook vir ‘n ander kollega om dit te doen en dan selfs die pediater. Die antwoord is telkens die selfde. Dis maar gewoonlik oor die skooltoelatingsjaar wat die besorgdheid is.

AH ·

Bedrog is bedrog. Waar trek die pa die streep. Nou is dit 1 uur, volgende 1 dag ens. Klink soos een van die mense wat dink jy kan geskiedenis verander om te maak asof dit nie gebeur het nie. Dit is ongelukkig nie hoe dit werk nie.

Frans ·

Ek verstaan die probleem wat ouers in Suid Afrika in die verband ondervind, Soos ek huidige wetgewing tov skoolpligtigheid verstaan word jy skoolpligtig in die jaar wat jy sewe word.Kinders wat op soos in die geval op 31.12 van \n jaar gebore word beland dus in ‘n graad saam met kinders wat bv in Januarie van ‘n jaar gebore is.
Die kinders wat in Januarie gebore is, is dus ‘n jaar ouer en verder ontwikkel. My kleinkinders was van die 31 Desember kinders en kon ‘n mens ‘n duidelike verskil opmerk veral in sport.Hulle was nie skoolgereed nie en kon gerus nog ‘n jaar by die huis gebly het.

Gawie ·

My vrou is onlangs oorlede na ‘n lang siekbed. Sy is om 23:20 oorlede, maar aangesien die paramedici eers ná middernag by die huis aangekom het om haar dood te verklaar, dui haar sterfsertifikaat aan dat sy eers die volgende dag oorlede is. Hulle was nie bereid om die datum op die dokumente as die werklike sterfdatum aan te dui nie.

Kosie ·

Dit sy keuse los die man dat hy die datum verander as hy wil, 2020 was n slegte jaar en ek sou nie graag daai datum as my geboorte datum wil he as ek kon kies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.