Pa vies ná juffrou eis hy moet 24 kinders uitnooi

Argieffoto (Foto: Georg H./Pixabay)

ʼn Ouer is ontstoke omdat ʼn onderwyseres hom probeer dwing het om 24 kinders en hul ouers na sy seun se verjaarsdagpartytjie uit te nooi.

Die man het sy mening op die sosialemediawebwerf Reddit gedeel ná ʼn gesprek met sy sesjarige seun se onderwyseres. Sy wou hom dwing om sowat 72 mense (24 kinders en hul ouers) na sy seun se verjaarsdagpartytjie uit te nooi.

Die pa sê die juffrou het hom gebel om te sê sy is bewus daarvan dat hy slegs ʼn paar kinders, sy seun se maats, uitgenooi het, en nie al die kinders in die klas nie.

Die pa verduidelik dit is omdat sy seun “probleme” het met van die ander kinders in die klas en hulle kan nie soveel mense by hul huis akkommodeer nie. Die juffrou het egter laat weet dat hulle ʼn “reël” in die klas het.

“Sy sê daar is ʼn reël dat indien enige kinders in die klas genooi word, moet al die kinders genooi word. Ek het vir haar gesê dit is ʼn geleentheid buite skoolure by ʼn privaat eiendom. Sy kan nie vir my sê wat ek by my huis moet doen nie, en wie ek moet uitnooi of nie.”

Volgens die juffrou voel sommige kinders seergemaak as hulle nie genooi word nie. “Ek het vir haar gesê daar is 24 kinders in die klas. As hul ouers ook bywoon, is dit waarskynlik minstens 72 mense en dit is net nie ʼn redelike ding om van iemand te verwag nie.”

Die pa sê sy seun het maats in ʼn ander klas ook en wou weet of dit beteken hy moet al die kinders in daardie klas ook nooi. “Sy het toe gesê my seun is in haar klas, hy is onder haar toesig, en dit is haar reël.”

Die pa meen hy is slegs onder die juffrou se toesig terwyl hy in die klas is. “Ek is die een wat die partytjie hou, en sy het nie die reg om reëls vir my huis of vir my te maak nie. Sy het toe gesê as haar klas betrokke is, dan is sy ook betrokke. Ek is ʼn 38-jarige elektrisiën wat ʼn privaat geleentheid in my eie huis, buite skoolure reël. Dit is my huis waarop ek ʼn verband afbetaal. Dit is my huis, my reëls en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.”

Die pa het daarna afgelui.

Hy sê sy vrou stem met hom saam oor die partytjie, maar dink hy het te ver gegaan toe hy die onderwyseres aan die einde van die gesprek gevloek het. Hy wou by Reddit-gebruikers weet of hy verkeerd was.

Talle gebruikers meen die pa is heeltemal reg in sy mening en ander het saamgestem dit is ʼn algemene reël in skole.

“Ek is ʼn onderwyseres en ek stem saam met die pa! Sy het haar grense oorskry deur jou in die eerste plek te bel en toe boonop daarop aan te dring dat letterlik enigiets waarby haar leerlinge betrek word, haar besigheid is. Dit is verregaande! Vertel die skoolhoof, en as jy nie tevrede is met die uitslag nie, kontak die superintendent,” het een persoon geskryf.

ʼn Ander sê: “Mens kan nie mense dwing om kinders uit te nooi wat hulle nie daar wil hê nie. En as mens dit doen – dink sy daardie kind sal nie uitgesluit word by die partytjie nie? Dis nie die manier hoe om ʼn geboeliede kind in te sluit nie. En as mens dit só maak dat niemand meer ʼn partytjie mag hou nie, dan sal die wrok net meer gekoester word en die boeliery erger word.”

ʼn Ander het egter gesê: “Elke voorskool en laerskool wat my kinders bygewoon het, het dié reël gehad, net soos wat dit dekades gelede was toe ek en my eggenoot op skool was. Dis ʼn algemene reël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hennie ·

In Suid-Afrika nooi jy as ouer wie jy wil na n kind se partytjie en geen onderwyser sal vir my se ek moet die hele klas nooi nie. Wie is sy om haar eie reels te maak in elk geval

Lourens ·

Ons het meer sulke pa’s nodig. My kinders is nog op skool en daar is nie ‘n manier wat ek enige onderwyser sal toelaat om reëls te maak, laat staan nog af te dwing, vir wat hulle buite skoolure en -aktiwiteite doen nie.

Misky ·

As jy iets skool toe stuur vir verjaarsdag, dan stuur jy vir almal in die klas. As ek iets na ure by my huis hou, nooi ek wie ek wil.

Dink daai juffrou is die probleem en sy word nerens genooi nie. Ek vermoed sy wou eintlik net die partytjie bywoon.

melW ·

Dis absurd. Dis ń private geleentheid. Dink ook aan die kostes wat dit die ouer gaan kos.

Boris ·

Dit is ‘n absolute onsinnige reël. Kinders moet van kleins af besef dat almal nie altyd by alles ingesluit word nie.

Chef ·

Dit is seer sekerlik iewers in Amerika waar hierdie nuwe orde wokeness aan die orde van die dag is

melaney ·

Dit herinner my aan die dag toe ek ‘n koek gebak het vir my 10 kantoor kollegas. Een van hulle het summier 40 arbeidswerkers wat buite gewerk het, ook ingenooi om koek te kom geniet. Natuurlik kon een koek nie verdeel word tussen 50 mense nie. Ek was uitgekryt as ‘n rassis. Dit was die laaste koek wat ek daar ingedra het.

krodedil ·

Dagvaar elke persoon wat jou ‘n rasis noem en maak genoeg geld om ‘n 1000 000 koeke te koop.

Snowball ·

Vra sommer vir juffrou om die ekstra onkoste te dra en ‘n groter lokaal te verskaf en dan sommer die koek ook te bak. Dan kan sy met gemak ‘n partytjie vir al 24 kinders en hulle ouers, vir 24 verjaarsdae borg. Sy is dan nou so betrokke, sy moet sommer voluit gaan vir goud.

Elize ·

Nee wat, nog nooit van die reel gehoor nie, jy nooi wie jy wil.

Mallie ·

Sy het nie n sosiale lewe nie en nou wil sy vir haarself een skep. Simpel juffrou.

Smirre ·

In daai geval, juffrou, nooi ek met graagde die klas en ouers na jou huis, jy gee seker nie om dat my
kind se familie kom( dis my reels), veral oom Koos met sy drank probleem sal graag wil kom.

Porseleintjie ·

Op elke vlak wil hul ouers beheer in hulle private lewe. Hoe jy jou kinders moet dissplineer, wat hulle moet glo en nou ook wie jou private drumpel betree. Bepaal jou aandag by jou werk jufr. Jy is arrogant en buite plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.