Paartjie hou deurry-troue met 10 000 gaste

Die bruid en bruidegom. (Foto: Tengku Adnan Tengku Mansor/Facebook)

Terwyl talle paartjies hul troues uitstel of die gastelys verminder te midde van die Covid-19-pandemie, het ʼn egpaar van Maleisië daarin geslaag om koronavirusregulasies na te kom en steeds ʼn troue met 10 000 gaste te hou.

Volgens die BBC het die bruidegom, Tengku Muhammed Hafiz – seun van ʼn invloedryke politikus – en die bruid, Oceane Alagia, Sondag hul deurry-troue in Putrajaya, net suid van die hoofstad in Kuala Lumpur, gehou.

Die pasgetroudes het die oggend buite ʼn regeringsgebou gesit terwyl gaste in hul motors verbygery het. Gaste moes hul motorvensters toe hou terwyl hul vir die bruidspaar waai.

Tengku Adnan Tengku Mansor, pa van die bruidegom en ʼn voormalige minister, het foto’s van die troue op Facebook gedeel.

Tengku Adnan Tengku Mansor waai vir gaste. (Foto: Tengku Adnan Tengku Mansor/Facebook)

“Daar het meer as 10 000 motors vanoggend verbygery. Ek en my gesin voel geëerd. Baie dankie vir almal se begrip en dat julle die voorgeskrewe prosedures nagekom het om hierdie dag moontlik te maak,” skryf Adnan.

Die gaste is egter nie met leë hande huis toe nie. Hulle het elkeen ʼn voorafverpakte kospakkie ontvang wat by ʼn nabygeleë tent uitgedeel is.

Dit het ure geneem vir al die gaste om verby die paartjie te ry, berig ABC News.

Die troue het ʼn dag voordat die bruidegom se pa skuldig bevind is aan korrupsie, plaasgevind. Adnan is ʼn jaar gevangenisstraf opgelê.

The Straits Times berig dat Adnan ook met RM2 miljoen (meer as R7 miljoen) beboet is. Die gevangenisstraf en boete is egter opgeskort hangende ʼn appèlaansoek deur Adnan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.