Paartjie trou in die meta-heelal

Skermgreep uit die video

ʼn Egpaar van Tamil Nadu in Indië het tradisie en tegnologie bymekaargebring toe hulle hul onthaal in die meta-heelal (“metaverse”) gehou het. Dinesh SP en Janaganandhini Ramaswamy het op 6 Februarie in Sivalingapuram getrou. Vriende en familie van reg oor die wêreld kon egter die onthaal bywoon, omdat dit alles in ʼn virtuele wêreld plaasgevind het.

Die meta-heelal is ʼn virtuele 3D-omgewing waar gebruikers kan “leef” en met ander interaksie kan hê deur digitale avatars. Dit kombineer verskeie elemente van tegnologie soos geaugmenteerde werklikheid, blokketting en virtuele werklikheid.

“Weens die Covid-19-pandemie moes ek die getal vriende en familie beperk tot 100 vir my onthaal,” het Dinesh aan The New Indian Express gesê. “Ek het besluit om my troue in die teenwoordigheid van ʼn klein groepie mense by Sivalingapuram te hou en die onthaal dan virtueel in die meta-heelal. Ek werk ook die afgelope jaar aan blokketting-tegnologie.”

Grafika: BeyondLife.club

Dinesh en Janaganandhini het ʼn Hogwarts-tema vir hul onthaal gekies, omdat hulle albei groot Harry Potter-aanhangers is. ʼn Beginnersonderneming genaamd TardiVerse het vir ʼn maand lank gewerk om die meta-heelal te skep waar die onthaal plaasgevind het. Saam met avatars van die gaste en die bruid en bruidegom, is ʼn avatar van die bruid se oorlede pa ook geskep.

Grafika: BeyondLife.club

“My skoonpa is verlede jaar in April oorlede,” het Dinesh aan CNN gesê voor die troue. “Ek ontwerp dus ʼn 3D-avatar wat soos hy lyk en hy sal my en my verloofde seën. Dis iets wat ons slegs in die meta-heelal kan doen.”

Foto’s en video’s van die meta-heelal-troue word aanlyn gedeel. Een van die video’s wys ʼn musiekkonsert wat via die meta-heelal van Chennai uitgevoer is.

Die troue het ook nieverwisselbare item (NVI’s) ingesluit. Spesiale NVI’s is deur GuardianLink uitgereik en is beskikbaar op Beyondlife.club. Die NVI-versameling sluit kunswerk in met agtergrond en klere uit Harry Potter en die kuberpunk-era – ʼn toevoeging tot die klassieke trouklere vir die bruid, bruidegom en die bruid se oorlede pa.

Dinesh, ʼn projek-vennoot by IIT Madras, het vroeër verduidelik hoe hy op die idee van ʼn meta-heelal-troue afgekom het.

“Ek het op die idee afgekom van ʼn troue in die meta-heelal, en my verloofde het ook van die idee gehou,” het hy aan Times of India gesê. “Ek stel baie belang in kripto- en blokketting-tegnologie en myn al die afgelope jaar ethereum, ʼn tipe kripto-geldeenheid. Aangesien blokketting die basiese tegnologie vir die meta-heelal is, het ek al gedink ons moet die onthaal in die meta-heelal hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Nie te lank terug nie het ek flieks soos Fifth Element en Bicentennial Man gekyk en gedink dis vergesogd en sal tog nooit kan gebeur in my leeftyd nie. Dalk moet ek my opinie heroorweeg en dinge beweeg nou skielik baie vinnig in daai rigting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.