Pandemie bring spyt oor baba se naam

Argieffoto (Foto: Regina Petkovic/Pixabay)

Dis ʼn baie groot verantwoordelikheid om op ʼn kind se naam te besluit – dit is iets wat jou kind lewenslank saam met hom gaan dra en wat hom kan definieer.

Sommige ouers oorweeg tradisionele name en vernoem ʼn ouma of oupa en ander kies unieke, moderne name. Dan is daar die moontlikheid dat jy oor ʼn paar maande of jare nie van die naam gaan hou nie …

Een ma het op Mumsnet, ‘n webwerf vir ouers in die Verenigde Koninkryk, gesê sy is “skaam om te erken” dat sy oorweeg om haar dogter, wat byna een jaar oud is, se naam te verander.

“Ek hou van aardse, natuurname vir meisies, en ná sorgvuldige oorweging, het ons gekies om haar ‘Sage’ te noem toe sy gebore is,” vertel sy.

Maar intussen het die koronavirus-pandemie wêreldwyd uitgebreek.

“Elke dag om 17:00 is daar ʼn perskonferensie van die regering waar hulle verwys na ‘SAGE’. ‘SAGE sê dit’, ‘SAGE sê dat’, en hulle het ‘gesprekke met SAGE’.” Sy verduidelik ook dat SAGE verwys na die Scientific Advisory Group for Emergencies.

“Al waaraan ek nou kan dink, is dat mense dadelik aan die pandemie gaan dink as hulle hoor haar naam is Sage – en al waarna hulle sal verwys is die regering se advieskomitee! Dit was reeds ʼn naam waarop mense verskillend reageer het en ek het tot dusver nog nie enige positiewe reaksie op die naam gekry nie – selfs nie eers voor die pandemie nie.”

Die ma is besorg dat haar dogter self nie van die naam sal hou wanneer sy groot is nie en dat sy spyt sal wees dat sy dit nie nou verander terwyl sy die kans het nie. “Maar aan die ander kant, sy ken reeds haar naam – sal dit nie verwarrend en wreed wees om dit nou te verander nie? Dit veroorsaak vir my as ma baie skuldgevoelens, angs en bekommernis.”

Sy wou by ander ma’s weet wat hulle dink en Sage se naam het gemengde reaksie uitgelok.

“Ek het al byna al die perskonferensies gekyk, maar glad nie aan die advieskomitee gedink toe jy haar naam gesê het nie. Ek het slegs aan die krui gedink,” skryf een ma.

“Verander dit as jy nie daarvan hou nie, maar nie as gevolg hiervan nie. Oor twaalf maande gaan niemand meer Sage met die pandemie verbind nie,” skryf ʼn ander.

“Ek hou baie van haar naam. En ek kan nie dink dis goed om só groot baba se naam te verander nie,” het nog iemand gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christine

Sage ia ñ baie unike,natuurlike naam. Ek hou daarvan.

Martha

My naam is verander toe ek so klein was en ek sou eerder my “ou” naam wou hê. Ek was gebore Elsmarie en toe is ek die enigste kleindogter en ek kry toe ouma Martha se naam. Sage is ‘n unieke naam

Duck

what next?

Suzanne

Sage is ‘n beautiful naam!!

Jack

Sy moet maar haar dogter se naam verafrikaans na Salie. Hierdie raad is gratis.