Pasop vir dié kat, waarsku Japan

Argieffoto (Foto: Avi Chomotovski / Pixabay)

Inwoners in ʼn stad in die weste van Japan is aangesê om nie ʼn vermiste kat te nader of aan hom te vat nie. Hy het in ʼn vat vol gevaarlike chemikalieë geval en toe weggehardloop.

ʼn Personeellid by ʼn metaalaanleg in Fukuyama het Maandagoggend by die werk aangekom en katspoortjies opgemerk wat van die houer af weggelei het, het die maatskappy gesê.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die kat van die fabriek weghardloop – oënskynlik sonder enige beserings.

Die vat is drie meter diep en bevat heksavalentchroom wat by die aanleg gebruik word. Dit is karsinogenies en kan ook ʼn velirritasie veroorsaak.

“Ons het dadelik die polisie, die Fukuyama-stadsraad en ons bure by ʼn nabygeleë aanleg in kennis gestel,” het ʼn verteenwoordiger van die maatskappy aan AFP gesê.

“Die voorval het dit onder ons aandag gebring dat ons maatreëls moet instel om te voorkom dat klein diere soos katte by die perseel kan inkom. Dit is iets wat ons nog nooit vantevore beleef het nie.”

Owerhede het ʼn waarskuwing aan inwoners gerig om nie aan die dier te raak nie en die polisie dadelik in kennis te stel as hulle op die kat afkom.

Teen Dinsdagmiddag was daar nog geen teken van die kat nie. Gesondheidsowerhede vermoed egter dat die kat moontlik gevrek het weens die blootstelling aan die heksavalentchroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

Ai…. katte is so rats en val nie somer in goed nie. Ek glo ook by jet gesterf, Rus sag kieter-kat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.