Pensioenarisse beboet ná plundertog in hotel

Macdonald Loch Rannoch-hotel in Skotland (Foto: Macdonald Loch Rannoch-hotel)

ʼn Paartjie, twee pensioenarisse, wat “buite beheer was” by ʼn hotel, moet nou opdok vir die skade wat hulle aangerig het.

Die personeel was só bang vir die paartjie dat hulle in die middel van die aand 3 km ver na hul veiligheid gehardloop het.

Robert Fergus (72) het naak met ʼn skêr by die Macdonald Loch Rannoch-hotel in Skotland rondgehardloop. Sy 69-jarige vrou Ruth, wat net haar nagklere aangehad het, het gedreig om werknemers te skiet. Die paartjie het glo “ʼn slegte reaksie gehad” nadat hulle alkohol gebruik het.

Fergus het die hotel se internet- en telefoonkabels gesny en hy en sy vrou het daarna van die hotel in hul luukse BMW gevlug, voor die polisie hulle aangekeer het.

Fergus, ʼn afgetrede geoktrooieerde landmeter van Troon, Ayrshire, het skaam in die Perth Sheriff Court gesit terwyl die optrede van die paartjie tydens dié bisarre voorval as “buite beheer” beskryf is.

Hy het erken dat hy dreigend opgetree het met ʼn skêr. Hy het ook erken dat hy doelbewus eiendom beskadig het. Hy is met £2 750 (ongeveer R46 000) beboet en moet £800 (meer as R13 000) aan die hotel terugbetaal vir die skade wat hy op 4 Februarie veroorsaak het. Hy mag ook vir meer as ʼn jaar lank nie motor bestuur nie.

Ruth, wat nie in die hof was nie, is met £1 350 (ongeveer R22 600) beboet nadat sy die werknemers en gaste met geweld gedreig het.

Michael Sweeney, wat teen die egpaar getuig het, het aan die hof gesê die paartjie het in die hotel tuisgegaan en hulle was omstreeks 17:00 onder die invloed van alkohol. Scott Glen is omstreeks 01:45 wakker gemaak toe iemand aan sy hoteldeur geklop het. Ruth het in die gang gestaan. Dit het voorgekom of sy onder die invloed van alkohol is en sy was verward. Toe sy op hom begin skree, het Glen na die ontvangs gegaan om die personeel in te lig van die voorval.

In daardie stadium het Fergus opgedaag – sonder sy klere – en het ook op die gaste en personeel geskree en hulle gevloek.

“Hulle was buite beheer,” het Sweeney gesê.

Die personeel en gaste het uit die ontvangs gevlug en skuiling gaan soek by ʼn nabygeleë dorpie.

Die egpaar is twee uur later deur die polisie aangekeer.

Fergus se prokureur het aan die hof gesê die egpaar het “meer alkohol gebruik as wat verstandig is”. Hy het gaan slaap, maar het wakker geword toe sy vrou gesê het die personeellede het vyandig teenoor haar opgetree. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys egter dat die egpaar se aanval moedswillig was.

Pauline Cullerton, vir Ruth, het gesê haar kliënt het ʼn mantelvliesbreuk en sy het sleg reageer op die alkohol omdat sy die dag baie min geëet het.

© Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Dis die eerste keer dat ek hoor ‘n prokureur voer ‘n mantelvliesbreuk aan as versagtende omstandighede. Wat op aarde het dit uit te waai met hul wangedrag?

DokterDokter ·

Dit werk so….as ‘n druppeltjie alkohol deur die skeur in die mantelvlies drup, kan dit maklik ‘n man se kop deurmekaar maak, en dan moet sy vrou vlug want dan het hy net een ding op sy brein. Dis duidelik wat hier gebeur het….hy was nakend en die skêr wou hy gebruik om sy vrou se slaapklere ook van haar lyf af te knip. Nee, dis duidelik daardie mantelvliesbreuk het veroorsaak dat hy nie homself was nie, definitief versagtend…

Theresa ·

Hul moet hierheen kom. Sal heel gemaklik in hedendaagse tye hier inpas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.