Perdeby-spesie na Harry Potter-skurk vernoem

Harry-Potter-perdeby

Die ‘Lusius malfoyi’. Foto: www.auckland.ac.nz

ʼn Nieu-Seelandse bioloog wil die slegte beeld van perdebye poets deur ʼn nuwe parasitoïede spesie te vernoem na Lucius Malfoy, een van Harry Potter se aardsvyande in dié fantasie-fiksiereeks.

Lusius malfoyi, die nuutgevonde spesie van die nie-stekende perdeby, is slegs een van die na raming 3 000 insekspesies wat in Nieu-Seeland aangetref word.

Tom Saunders, ʼn navorser aan die universiteit van Auckland, wat sy eerste Harry Potter-boek op die ouderdom van tien gelees het, is deur dié storie geïnspireer om dié perdeby-spesie na een van die hoofskurke in die reeks te vernoem.

“Mense sien perdebye as skurke, die slegte ouens, maar die waarheid is dat die oorgrote meerderheid van perdeby-spesies neutraal óf voordelig is vir die mensdom. Net soos Lucius Malfoy vergewe word nadat hy bande met Voldemort se bondgenote verbreek, vra ek mense om perdebye te vergewe sodat hul reputasies herstel kan word as interessante, belangrike wesens,” het hy aan CNN gesê.

Lucius, die pa van Draco Malfoy, word deur JK Rowling uitgebeeld as ʼn bose figuur wat verantwoordelik is vir die opening van die kamer van geheimenisse wat die dodelike basilisk gevangene hou in die tweede boek van die reeks.

Hy word een van die bose lord Voldemort se hoofvolgelinge nadat hy probeer om vir Albus Dumbledore uit sy posisie as hoof van die Hogwarts-skool te verwyder. In die laaste boek in die reeks verlos Malfoy homself deur te ontsnap uit Voldemort se mag om sy eie familie te red, en word hy dan vergewe vir sy misdade.

Met ondersteuning van die sentrum vir biodiversiteit en biosekuriteit aan die universiteit van Auckland,wou Saunders meer aandag vestig op dié spesie van insekte wat Nieu-Seeland mettertyd mag verloor.

“Daar is meer spesies van parasitoïede perdebye as visse, reptiele, amfibieë, voëls en soogdiere altesaam. Hulle word in Nieu-Seeland en reg oor die wêreld gebruik om plae te beheer wat andersins baie meer geld en plaagdoders sal verg om te beheer,” het hy gesê.

“Ek hoop dat dié naamgewing meer gesprek tot gevolg kan hê oor die verhouding wat mense het met die miljoene ander spesies wat die planeet met ons deel.”

Volgens National Geographic is die meeste van die 30 000 perdeby-spesies wat tans bekend is, nie-stekende, eensame wesens wat meer goed as kwaad doen deur plae te beheer. Inheemse parasitoïede, soos dié een wat deur Saunders ontdek is, steek nie en kom ook nie in kolonies voor nie.

“Die grootste probleem is die gebrek aan data,” het Saunders in ʼn verklaring gesê. “Ons weet nie watter spesies ons het, hoeveel daar mag wees of wat hul gasheerspesies is nie, so hulle kan nie ingesluit word in bewaringsplanne nie. As ons nie meer hulpbronne by hul taksonomie voeg nie, kan ons in gevaar wees om perdeby-spesies te verloor sonder dat ons daarvan weet.”

Saunders het gesê hy hoop Lusius malfoyi is die voorloper vir ander wesens waaroor min inligting bekend is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.