Polisiebeamptes laat vaar noodoproep om Pokemon Go te speel

(Grafika: PokemonGoLive.com)

Twee Amerikaanse polisiebeamptes wat eerder Pokemon gaan soek het as om te reageer op ʼn noodoproep oor ʼn rooftog, is afgedank.

Louis Lozano en Eric Mitchell het in die strate rondgeloop op soek na fantasie-kreature in die geaugmenteerde werklikheid-slimfoonspeletjie. Hulle het die seldsame Snorlax en Togetic gevang, maar geen misdadigers nie.

Klankgrepe uit die opname van ʼn gesprek in hul motor het onthul dat hulle die noodoproep om hulp by ʼn winkel in Los Angeles gehoor het, maar besluit het om eerder weg te ry.

“Beampte Mitchell het Lozano in kennis gestel dat ‘Snorlax’ opgeduik het,” aldus regsdokumente vir hul afdanking. “Vir die volgende ongeveer 20 minute bespreek hulle Pokemon en ry na verskillende liggings waar die virtuele karakters skynbaar op hul slimfone verskyn het.”

Die Los Angeles-polisiebeamptes het eers Snorlax gevang en toe hul aandag gefokus op Togetic – wat glo moeilik was om aan te keer.

“Genade, man. Hierdie ding baklei verskriklik met my,” het Mitchell gesê, aldus die dokumente wat verlede week gepubliseer is.

Albei mans staan tereg op verskeie klagtes van wangedrag en erken dat hulle versuim het om te reageer op die noodoproep tydens die voorval in April 2017, maar ontken dat hulle Pokemon Go gespeel het. Die twee het in hul dissiplinêre verhoor aangevoer hulle het bloot die speletjie bespreek en hulle het hul afdanking gedaag.

Kalifornië se appèlhof het egter nie hul verduideliking geloofwaardig bevind nie en die afdankings bevestig.

Pokemon Go het in die mid-2010’s die wêreld op hol gehad met miljoene mense wat met hul slimfone die strate ingevaar het op soek na die virtuele karakters.

In een van die eerste hoofstroom-weergawes van geaugmenteerde werklikheid moes deelnemers na die monstertjies soek wat in die werklike lewe verskyn as jy deur ʼn slimfoontoestel kyk. Deelnemers het Pokeballs gebruik om die karakters, van muise tot drake, te vang en kon hulle dan in Pokegyms oplei om aan gevegte deel te neem.

Die speletjie was só gewild dat verskeie weermagbasisse soldate moes waarsku oor die gevare om die speletjie op die basis te speel, insluitend naby aanloopbane.

Sommige deelnemers is ook daarvan beskuldig dat hulle verkeersongelukke veroorsaak het, en minstens een persoon is daarvan beskuldig dat hy onwettig ʼn grenspos wou oorsteek “om hulle almal te vang”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Ja nee wat, laat hulle gaan. Nou het hulle baie tyd om daai goggas te gaan vang

C-Monster ·

Hulle het hulle afdanking “gedaag”?
Is dit nie “betwis” of “teengestaan” nie?

Sandra ·

Kan jy nou meer dat twee uitgevrete mans nog in sulke bog speletjies glo. Wat sou gebeur het as daar iemand vermoor is tydens die rooftog by die winkel? En hoe, as hulle kinders het en getroud is, vertel jy vir jou gade dat jy afgedank is weens so ‘n onbenulligheid waaraan jy skuldig is. Ek se ook hulle afdankings was geregverdig. Nou het hulle baie tyd om die goed te vang.

Frank ·

Is LA nie ook deel van die “defund the Police” brigade nie? Eks amper seker daarvan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.