ʼn Raaisel wat wetenskaplikes al jare lank laat kopkrap, is moontlik opgelos.
Die Bermudadriehoek is ‘n denkbeeldige driehoek tussen Miami, die Bermuda-eilande en Puerto Rico. Die gebied strek oor 4 miljoen vierkante kilometer in die westelike deel van die Atlantiese Oseaan. Dit het vanaf die middel van die 20ste eeu bekend geword vir die skynbaar raaiselagtige verdwyning van verskeie vaar- en vliegtuie.
Sommige kenners het aangevoer dat ʼn draaikolk moontlik in die oseaan versteek is. Outeurs van populêre lektuur het hierdie verdwynings aan paranormale verskynsels of moontlike aktiwiteite van buiteaardse besoekers toegeskryf.
Een wetenskaplike meen rotse is moontlik die antwoord.
Nick Hutchings, ʼn minerale-prospekteerder, het in ʼn dokumentêr, Secrets of the Bermuda Triangle, op die Britse Channel 5-kanaal gesê Bermuda is basies ʼn berg in die see. Die episode is oorspronklik in 2018 uitgesaai, maar ‘n heruitsending van die episode maak weer opslae op sosiale media.
“Dit is ʼn ondersese vulkaan. Dertig miljoen jaar gelede het dit bo die seevlak uitgetoorn. Nou het dit weg geërodeer en ons het net die puntjie van die vulkaan oor. Ons het ʼn paar kernmonsters wat magnetiet bevat. Dit is die mees magnetiese materiaal wat natuurlik op Aarde voorkom.”
Hutchings het in die program ʼn eksperiment uitgevoer waar hy stukkies rots en ʼn kompas gebruik. Wanneer die magneet oor die stukkie rots gehou word, het die naald tekere gegaan.
Dit word toegeskryf aan die magnetiet in die rots.
“Mens kan jou net indink wat dit sou beteken vir skepe destyds. Dit sou baie verwarrend gewees het vir seevaarders.”
Baie interessant. Die storie het my nog altyd gefasineer
Dit was al die tyd nog maar ‘n “magnetiese” issue, net nie seker gewees wat die magnitisme veroorsaak het nie. Dankie, goeie brokkie nuus.