Raaisel opgelos ná hond sak en pak op stasie gelos is

Die DBV in Skotland het die foto van Kai op Facebook gedeel.

Die DBV in Skotland het die foto van Kai op Facebook gedeel.

ʼn Vrou het na vore gekom om te sê sy is die eienaar van die hond wat met ʼn tas by ʼn treinstasie in Ayr, Skotland gelos is.

Die Sharpei-kruising is op 2 Januarie by die stasie gevind waar hy aan ʼn reling vasgemaak was.

Fin Rayner (39) het aan die Scottish Daily Record gesê sy het Kai by die treinstasie gelos nadat ʼn man, wat die hond aan haar wou verkoop, haar om die bos gelei het. Sy het haar negejarige dogter glo na die treinstasie gebring nadat hulle op die internet die reëlings getref het. Die verkoper het saam met Kai opgedaag, maar dit was nie dieselfde hond wat hulle gedink het om te koop nie, het Rayner verduidelik.

Volgens haar het sy versoek om met die hond te gaan stap en het ʼn deposito by die verkoper gelaat. Toe hulle terugkom, was die man weg. Sy het tot dusver nog nie weer van die man gehoor nie.

Weens haar dogter se asma het sy besluit om beamptes by die treinstasie in kennis te stel en die hond agter te laat sodat sy en haar dogter huis toe kon gaan, sowat 320 km verder.

Volgens Skotland se Dierebeskermingswet kan enige persoon, wat skuldig bevind word dat hy ʼn dier verlaat het, verbied word om vir ʼn spesifieke periode of lewenslank weer ʼn troeteldier te besit. Rayner het egter aan die koerant gesê sy glo sy het die situasie na die beste van haar vermoë hanteer.

Kai het ʼn internetsensasie geword nadat Skotland se DBV ʼn foto van hom op Facebook gelaai het. Sy fondsinsamelingswebwerf het reeds byna R45 000 ingesamel. Die geld sal gebruik word vir ʼn oogoperasie wat hy benodig. Aanbiedinge van mense wat hom wil aanneem, stroom van regoor die wêreld in.

Lees meer: Scottish Daily Record

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heinrich Swanepoel ·

Hel, maar die jaar vlieg vinnig verby!Julle plaas al artikel in die toekoms of julle kan vooruit sien as dié artikel al 2 Februarie geplaas is?

Sune van Heerden ·

Dagsê Heinrich

Ons vra om verskoning vir die glips – ons het die fout reggestel, dankie!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.