Radiostasie ‘ontdek’ Annie Lennox, sê sy het ‘potensiaal’

Annie Lennox (Foto: Facebook)

ʼn Radiostasie in Los Angeles in die VSA het sy naam onlangs behoorlik met ʼn plank bygedam toe hy in ʼn e-pos aan die veelbekroonde Skotse sangeres Annie Lennox (62) gesê het die stasie “dink sy het potensiaal” nadat hulle haar musiek aanlyn “ontdek” het.

Lennox het ʼn skermgreep van dié e-pos op haar Facebook-blad gedeel met die “hoopvolle” boodskap: “Ek dink ek is dalk in!”

In die e-pos skryf die musiekkoördineerder aan die sangeres sy het haar musiek “aanlyn ontdek” en “baie daarvan gehou”.

“Ek soek gereeld kunstenaars wat ek dink potensiaal het, en speel dan hulle liedjies op ons stasie. As jy wil, kan jy sommer die MP3 van jou jongste enkelsnit vir my stuur. Ek sal dit dan aan ons programregisseur stuur om te hoor of hy belangstel om dit oor die radio te speel,” lui die e-pos.

Lennox het opkomende en gevestigde kunstenaars in ʼn verklaring gewaarsku teen e-posse soos dié wat in baie gevalle ʼn slenter is.

“Hoewel dit pret is om die e-pos met julle te deel, kry opkomende sangers daagliks met slenters soos dié te doen. My digitale span kry honderde daarvan elke jaar. Ek raai enige opkomende of gevestigde kunstenaars aan om liewer e-posse soos dié te skrap,” sê Lennox.

Dit is nie bekend watter radiostasie dit is wat die sangeres genader het nie.

Die skermgreep van die e-pos is al bykans 25 000 keer op Facebook gedeel.

Lennox het al drie Grammy-toekennings en sowat nege ander musiektoekennings in haar loopbaan verower.

Die e-pos wat aan Lennox gestuur is (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Reggie ·

As jy nie vir Annie Lennox ken nie…….moet jy liewers nie by ‘n radio stasie werk nie, musiek is nie jou rigting nie.

CAROL ·

Ek stem. Uhm as sy nie potentiaal gehad het nie – sou sy mos nie haar musiek verkoop gekry het nie!!

Danie ·

Dit gebeur ook seker as jy al jou tyd of Facebook en Twitter (ensovoorts spandeer) en nie ‘n deeltjie van jou tyd buite jou foon of huis spandeer nie. Nie alles wat saak maak is op die sosiale media beskikbaar nie.

Sarie ·

Ai jammer tog – dit is seker maar nog ‘n groentjie wat nog nooit van haar gehoor het nie. (hehehe)

My keuse ·

Plaaslik sou ‘n hele paar kreun- en huilsangers by my die toets gedruip het. So ook die radiostasies wat die geteem uitsaai.

Werner ·

Klink soos baie jong oproepers in SA…geen ervaring, geen kennis, geen stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.