Reëls vir dié troue word wyd gedeel

Argieffoto (Foto: Stocksnap/Pixabay)

ʼn E-pos van ʼn trouebeplanner word wyd op sosiale media gedeel weens die reëls wat daarin uiteengesit word. Van die reëls is dat niemand met die bruid mag praat nie en dat geskenke minstens $75 (sowat R1 000) moet kos.

Die trouebeplanner het kort voor die groot dag ʼn e-pos uitgestuur aan alle gaste om die laaste getalle te bevestig en die reëls vir die dag te deel.

Die bisarre lys het groot opslae gemaak op Reddit en talle gebruikers sê die eise sou veroorsaak dat hulle die seremonie boikot.

“Goeiemôre, ek kontak alle bevestigde gaste vir die finale getalle en deel graag reëls en regulasies vir die troue,” lui die e-pos van die trouebeplanner.

“Eerstens, woon julle steeds almal die troue by met ʼn metgesel?

Reëls en regulasies:

  1. Daag asseblief 15 – 30 minute vroeër op.
  2. Moenie wit, room of ivoor dra nie.
  3. Moenie enige ander haarstyl buiten ʼn gewone bob of poniestert dra nie.
  4. Moenie met ʼn gesig vol grimering opdaag nie.
  5. Moenie enige opnames maak tydens die seremonie nie.
  6. Moenie iets op Facebook deel voor jy toestemming het om dit te doen nie.
  7. Gebruik #[gesensor] wanneer jy enige foto’s deel.
  8. Moet glad nie met die bruid praat nie.
  9. Almal sal saam met Remy ʼn heildronk deel.
  10. Laastens, maak seker jou geskenk se waarde is minstens $75, anders sal jy nie toegelaat word nie.

Die plasing het duisende kommentare uitgelok. “[Die bruid] kan die trouebeplanner hiervoor blameer en maak asof sy nie van enigiets bewus was nie,” sê een persoon. “Maar inderwaarheid het sy óf glad nie ʼn trouebeplanner nie óf die trouebeplanner is nie hiervan bewus nie.” “Die bruid is óf verskriklik lelik of uiters selfbewus – of miskien albei?” laat weet ʼn ander. ʼn Derde persoon skryf: “Ek sal graag wil weet hoeveel mense uiteindelik opgedaag het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.