‘Regte’ Sneeuwitjie se grafsteen in dié museum te sien

Die grafsteen van die “ware” Sneeuwitjie (Foto: Diözesan-museum in Bamberg, Duitsland)

ʼn Museum in Duitsland het op die langverlore grafsteen van die “ware Sneeuwitjie” afgekom nadat dit in 1804 verdwyn het.

Maria Sophia von Erthal se grafsteen is in die Diözesan-museum in Bamberg te sien. Sy was na bewering die inspirasie vir die Grimm-verhaal uit 1812. Die grafsteen het verdwyn toe die kerk, waar sy begrawe is, afgebreek is. Dit is egter intussen by ʼn huis in Bamberg in Duitsland gevind en die familie het dit aan die museum geskenk.

Von Erthal is in Lohr am Main, beter bekend as “Sneeuwitjie-stad”, gebore. Sy was die suster van die voormalige aartsbiskop van Mainz.

Haar ma is dood toe sy nog ʼn klein dogtertjie was, en haar pa het met ʼn ander vrou getrou wat haar verstoot het ter wille van haar eie kinders – ʼn parallel aan die klassieke Sneeuwitjie-verhaal waar sy saam met haar bose stiefma moet bly.

Haar pa het ʼn spieëlfabriek besit in die dorp se florerende glasblaasbedryf en dit was moontlik die inspirasie vir die klassieke “spieël teen die muur”-reëls in die verhaal, asook Sneeuwitjie se glaskis.

Von Erthal het egter nooit haar prins ontmoet nie. Sy het nooit getrou nie en het ongeveer 100 km van die huis waar sy groot geword het, na Bamberg verhuis. Sy het later blind geword en is in die ouderdom van 71 oorlede.

Bamberg staan bekend vir sy sewe heuwels en kinders en mense met dwergsiekte wat in die myne gaan werk het – nog ʼn verwysingspunt in die verhaal van die sewe dwergies wat in ʼn myn gaan werk het in die Disney-weergawe van die verhaal.

Inwoners van Lohr am Main voer aan die broers Grimm het die vrou se verhaal gebruik en eenvoudig ʼn paar elemente uit Duitse volksoorleweringe bygevoeg.

Die storie het in 1937 bekendheid verwerf toe Walt Disney sy eerste vollengte tekenprent vrygestel het, “Snow White and the Seven Dwarfs”. Talle ander weergawes van die verhaal bestaan ook.

Holger Kempkens, direkteur van die museum, het gesê die verwysing na die feeverhaal is eerder ʼn “bemarkingsfoefie” vir hulle. Die feit dat ʼn vrou in daardie tydperk haar eie grafsteen ontvang het, maak die steen spesiaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kar ·

As mense die ware “sprokies”verhale lees, sal hul sien dis nie so vrolik soos hul dink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.