Reisigers se vreemdste versoeke in Suid-Afrika

Argieffoto (Foto; Lorri Lang/Pixabay)

ʼn Llama in die hotelkamer, ʼn lugverkoelde tent in die Sahara-woestyn en drie rooi M&M’s en ʼn foto van spek in hul hotelkamer is van die buitengewone versoeke wat reisagente oorsee die afgelope paar jaar moes hanteer, maar Suid-Afrikaanse maatskappye kry beslis ook vreemde versoeke!

Elizabeth Estment en Simon Clayton, vermaak- en produksiespesialiste by Flight Centre Business Travel, beaam dit. “Die vermaaklikheidsbedryf is nie net ʼn 9-tot-5-bedryf nie. Dis laatnagte, behoeftes op die laaste nippertjie, reëlings vir groepe en BBP-dienste met ʼn beperkte begroting,” verduidelik Estment. “Dis in hierdie bedryf belangrik om met ʼn reisigersmaatskappy te werk wat kliënte se unieke behoeftes verstaan.”

Clayton en Estment het hul topvyf vreemdste versoeke ooit gedeel.

1. ʼn Doelgemaakte lughawesitkamer

Wie geniet nie bietjie spesiale bederf ná ʼn lang vlug nie? Een kliënt het daarop aangedring dat sy ʼn 45 meter lange rooitapytverwelkoming moet ontvang by die lughawe met haar eie, privaat doelgemaakte sitkamer. Selfs die immigrasiebeamptes het hul rol gespeel om haar spesiaal te laat voel en haar paspoort is in die spesiale vertrek gekontroleer.

2. ʼn Chauffeur wat ook as ʼn reisgids kan optree

Een kliënt wat aan agorafobie ly, het daarop aangedring dat sy nie te veel mense in haar gevolg wil hê nie. Sy het ʼn swart sportnutsvoertuig versoek om in Suid-Afrika mee rond te ry en versoek dat haar chauffeur ook haar reisgids moet wees, omdat sy nie met twee verskillende persone in die motor wou gesels nie.

3. ʼn Hotelkamer met die perfekte “chi”

“Moenie met my chi mors nie,” het een kliënt gewaarsku, wat daarin glo om in ʼn kamer te bly met “die regte energiekanale” om sy kreatiwiteit aan te wakker. Die kliënt het sewe keer van kamer verander voor hy uiteindelik op ʼn kamer met die regte “chi” besluit het. Hy het egter sewe ekstra lampe versoek vir beligting en die bed moes ook na die regterkant van die kamer geskuif word “sodat die energie vrylik kan vloei”.

4. ʼn Animatroniese baba-olifant

Verbeel jou jy is in ʼn besige lughawe met ʼn baba-olifant aan jou sy… Een kliënt moes reis met iets wat soos ʼn regte baba-olifant gelyk het. Hy het groot opslae gemaak in die lughawe en by die hotel. Die “lewendige olifant” was eintlik ʼn besonderse animatroniese baba-olifant wat die kliënt tydens verfilming moes gebruik.

5. Slegs groen vrugte, asseblief

Daar is min dinge so lekker as om ʼn mandjie vol helderkleurige vrugte in jou hotelkamer te sien. Nie vir dié kliënt nie. Sy het daarop aangedring dat daar slegs groen vrugte in haar verwelkomingsmandjie moet wees.

“Versoekverslae is gewoonlik uiters vervelig vir die reisiger en die reisigerbestuurder. Maar soms is daar versoeke wat jou laat regop sit en kennis neem – veral in die vermaaklikheidsbedryf!” lag Estment.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Sommige hotel-blyers in Suid Afrika verwag ‘n Louis Vitton Handsak met ‘n paar vars gedrukte note in….

Ian ·

Hmm. In my bevelspos op die rykmans eiland, The Pearl Qatar, het ons so paar jaar gelede ‘n versoek gekry “to remove the flies from the atmosphere,” vanaf een van die restaurante op die eiland.

VanAfrika ·

Kan ek asseblief vir Keanu Reeves in my hotel kamer kry, offe die Die Green Arrow

ChrisE ·

Is dit nie opvallend dat hoe minder swaar jy in die lewe gekry het, hoe meer vol nonsens is jy dan nie. Van die mense dink regtig hulle kan op water loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.