Rome se ‘brandsiek’ Kersboom ontstig inwoners

rome kersboom 1

Die Kersboom op die Piazza Venezia. (Foto: AP Photo/Alessandra Tarantino)

Inwoners van Rome, Italië, is warm onder die kraag ná die massiewe Kersboom, wat volgens jare lange tradisie aan die begin van elke Kersseisoen in die middel van dié stad opgerig word, stelselmatig al sy naalde begin verloor het.

Die Romeine het hulself tot sosiale media gewend om hul misnoeë oor dié 21-meter hoë boom, wat “Spelacchio” of “brandsiek” gedoop is, uit te spreek.

Inwoners het ook die burgemeester, Virginia Raggi, oor die kole gehaal omdat dit dié stad €48 000 (ongeveer R730 000) gekos het om die boom van Suid-Tirool in te voer.

Die boom is op 8 Desember op die Piazza Venezia opgerig en het 600 silwer balle wat die ylende takke versier.

“Die boom word met ʼn toiletborsel vergelyk,” het Alvise Armellini, die Roomse korrespondent vir die Duitse nuusagentskap DPA, aan CBC gesê.

“Dit is nogal snaaks, want jy sien hoe mense in die verkeer stop om daarna te kyk, en as jy op ʼn bus is wat om die plein beweeg, kan jy hoor hoe mense vir mekaar sê: ‘Kyk hoe lelik is die boom.’ Mense stop ook by die boom om selfies te neem. Die boom trek aandag vir al die verkeerde redes,” het hy gesê.

rome kersboom 3

Vanjaar se Kersboom (links) teenoor verlede jaar se Kersboom (regs). (Foto: AP Photo/Alessandra Tarantino)

Volgens The New York Times het ʼn verbruikersregte-groep ʼn administratiewe hof, wat oorsig het oor die regering se besteding, genader om ondersoek in te stel in wat beskryf word as ʼn “skandalige spektakel vir inwoners en toeriste” en geëis dat die boom onmiddellik verwyder word.

Die stad het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy onderneem om ondersoek in te stel oor waarom die boom sy naalde verloor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johnn ·

Het laas week terug gekom van Rome af, what a city! n kersboom verander niks nie, inteendeel maak die kersboom daar die prentjie swakker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.