Ronde visbakke maak visse mal

Argieffoto (Foto: suncy95/Pixabay)

Goudvisse kan tot 30 jaar oud word en tot 25 cm lank word in groot akwariums of dammetjies, maar in klein visbakke vrek hulle gewoonlik ná ʼn paar weke of maande.

ʼn Vooraanstaande Franse troeteldierwinkel het nou verkope van ronde visbakke gestaak omdat dit visse mal maak en hulle gou só vrek.

AgroBiothers Laboratoire sal nie meer enige akwariums verkoop met ʼn kapasiteit van minder as 15 liter nie en slegs reghoekige bakke, omdat visse in kleiner bakke, en sonder ʼn filtrasie- of suurstofstelsel neerkom op dieremishandeling.

“Mense koop op die ingewing van die oomblik vir hul kinders goudvisse. As hulle egter weet dat dit eintlik dieremishandeling is, sal hulle dit nie doen nie,” sê Matthieu Lambeaux, uitvoerende hoof van AgroBiothers. “Om al in die rondte in ʼn klein bakkie te swem, maak visse mal en maak hulle vinnig dood.”

Volgens hom is goudvisse sosiale diere en hulle het ander visse, genoeg spasie en skoon water nodig. Om ʼn akwarium te kry verg minimum toerusting en kennis.

Duitsland en verskeie ander Europese lande het reeds ʼn verbod geplaas op visbakke, maar Frankryk het tot dusver nie enige wetgewing hieroor gehad nie.

“Ons kan nie al ons klante oplei en leer dat ʼn visbak wreed is nie. Ons beskou dit as ons verantwoordelikheid om klante eerder nie meer ʼn keuse te gee nie.”

AgroBiothers het vorige jare sowat 50 000 visbakke per jaar verkoop teen ongeveer €20 (sowat R340) elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Inge ·

Goeie vader, 30 jaar! Ek het gedink my goudvis van 7 jaar is ‘n uitsondering!

Linda ·

Visse wat bestuur? Nou visse wat mal word. Wat is volgende? Visse wat Huisgenoot lees…

Kirst ·

Bog. Ek het in std 6 een van daardie met die uitpeul ogies gekoop en hom Floyd gedoop. Hy het in die standaard ronde visbak gebly, en ek het dit weekliks skoongemaak. Teen matriek het dit moeite begin raak en teen my 4de jaar op universiteit ‘n pyn. Hy het toe uitendelik gevrek, na 9 jaar in ‘n ronde bak, en al wat mal gelyk het aan hom was die uitpeul ogies.

Janee ·

Good for you!!…Ek is lankal mal, en dit van op en af loop in my lang gang. Wat nog van visse wat in die rondte moet swem? Dit is dieremishandeling….

Piet Snot ·

En hoe het hulle dit vasgestel?
Ek reken jy moet ‘n aandagspan van meer as 40 sekondes hê om genoeg stres op te bou om mal te raak.

Tanniepetoors ·

My seun se goudvissies in ‘n ronde visbak is ook dood, maar dit was omdat ons kat hulle gevang het. Eerste en laaste goudvissies wat gekoop was. Visbak het plantjie bak geword.

Leoni ·

Ek glo dit! Iemand het kleintyd vir my (heeltemal téén my sin!) ‘n ronde visbak met twee arme vissies in gegee en die vissies het die hele dag net om en om en om en om en om en om … tot vervelens toe in die bak geswem. Hoekom mense die arme goedjies so wil aanhou kan ek nie verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.