Rosestad se ‘bedelaar’ het eersdaags sy eerste afspraak

Ammiël Smith is hard op soek na sy trouvrou

Ammiël Smith is hard op soek na sy trouvrou

Ammiël Smith, die jong Bloemfonteiner wat bekendheid verwerf het nadat hy met ʼn kartonplakkaat by ʼn verkeerslig op soek na sy trouvrou gaan staan het, het binnekort sy eerste afspraak nadat hy behoorlik oorval is met aansoeke.

Smith (23) het aan Maroela Media gesê hy sal hierdie manier van trouvrou soek beslis aanbeveel. Hy het intussen vyf topkandidate gekies en die eerste afspraak is met ʼn gelukkige meisie van Bloemfontein wat hom na ʼn One Direction-konsert gaan vergesel.

Voel hy dat daar meer druk op hom rus omdat almal hom dophou om te sien wat met die eerste ontmoeting gaan gebeur? “Ja, ek is nogal so ’n bietjie bekommerd. Dalk hou die meisie nie eens van my nie, en net van One Direction,” het Smith gesê.

Van die ander meisies wat Smith se lys gehaal het, is van Bloemfontein asook Potchefstroom en Hazyview. Volgens Smith is hy nie eens seker waar Hazyview is nie, maar hy besef hy sal moet vasstel.

Smith het meer as 500 aansoeke van potensiële meisies ontvang en die getal het aansienlik gegroei nadat ʼn radio-onderhoud met hom gevoer is.

Vir die ander ontmoetings het Smith reeds ʼn paar idees soos valskermspring, om koffie te gaan drink en selfs om ʼn pretdraf te voltooi saam met die meisie wat vir hom gesê het dat sy van draf hou. “Dan kan ek sien of sy regtig 10 km kan draf en of sy vir my jok,” het Smith gesê.

Smith sê dat hy dié manier van “trouvrou soek” ongetwyfeld sal aanbeveel aangesien jy ʼn goeie geleentheid kry om die meisie te leer ken en heel moontlik in daglig by die verkeerslig kan sien. “Dan kan jy ook op Facebook gaan kyk of sy aan al die vereistes voldoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fire ·

How desperate kan ‘n mens nie tog wees nie……wonder of dit vir aandag, publisiteit of “liefde” is…..

Nina ·

Ag, die nydigheid is seker nie nodig nie? Gun die kind sy manier van iemand soek, genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.