Ry met ʼn tuimeltrein op dié skip

Die Bolt Ultimate Sea Coaster (Grafika: Carnival Cruise Line)

Ongeveer 30 miljoen passasiers sal na verwagting in 2019 ʼn passasiersbootreis onderneem, aldus die Cruise Lines- internasionale vereniging.

Passasierskepe spandeer miljarde om ʼn nuwe ervaring vir hul passasiers te bied, om seker te maak dat hulle hul mededingers kan voorspring. Royal Caribbean het byvoorbeeld ongeveer $200 miljoen spandeer aan ʼn privaat eiland in die Bahamas, CocoCay, vir sy gaste, berig Bloomberg.

Carnival Cruise Line se nuwe Mardi Gras-skip is besig met ʼn nuwe avontuur – die eerste tuimeltrein aan boord ʼn skip en passasiers sal volgende jaar aan dié prettigheid kan deelneem.

Die Bolt Ultimate Sea Coaster word op die boonste dek van die skip ingerig, aldus die Carnival Cruise Line met ʼn spoed van 64 km/h op die afdraandes. Die tien vinnigste tuimeltreine in die wêreld behaal tussen 150 km/h en 240 km/h.

“Om die eerste tuimeltrein aan boord ʼn skip te bou is nogal ʼn uitdaging, want dit is nog nooit vantevore gedoen nie,” sê Glenn Aprile, direkteur van innovasie by Carnival Cruise Line. “Die ontwerp en beweging van die skip moet in berekening gebring word wanneer die tuimeltrein gebou word – iets wat nie nodig is vir ʼn tuimeltrein wat op vaste grond staan nie.”

Die tuimeltrein is ʼn enkelkar, elektriese trein waar die passasier self met ʼn pedaal bepaal hoe stadig of hoe vinnig die karretjie ry. Twee persone sal in ʼn tipe motorfiets sit met ʼn 360° uitsig oor die oseaan. “Op volspoed sal die rit ongeveer een minuut lank duur,” het Aprile verduidelik.

Maurer Rides, ʼn Duitse maatskappy wat in tuimeltreine en pretparke spesialiseer, bou die tuimeltrein. Die maatskappy het in 2016 die eerste prototipe in Duitsland getoets, volgens Coaster 101, ʼn webwerf wat op tuimeltreine en pretparke fokus.

Mardi Gras sal die grootste Carnival Cruise Line-skip wees met 20 dekke en 5 200 kamers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.