Sangeres eerste vrou om kol. Saunders te vertolk

Reba McEntire as kol. Saunders (‘n Skermskoot uit die video)

Die Amerikaanse countrysangeres Reba McEntire het pas die eerste vrou in die geskiedenis geword om die rol van KFC se alombekende kol. Saunders te vertolk – kompleet met ʼn bos spierwit hare, ʼn snor en die bekende wit snyerspak.

McEntire gaan as kol. Saunders te sien wees in KFC se jongste reeks advertensies wat van dié week af uitgesaai gaan word.

Andrea Zahumensky, KFC se hoofbemarkingsbeampte, het aan The Associated Press gesê die maatskappy het McEntire al in Desember genader om dié rol te vertolk.

Die sangeres is glo gekies as gevolg van haar grootwordjare in Oklahoma – die Amerikaanse deelstaat waarvandaan die oorspronklike kol. Saunders ook vandaan kom.

Die doel van die advertensiereeks is om KFC se nuwe Smoky Mountain Barbeque-geure te bemark. In die video sing McEntire onder meer en verwys sy tong-in-die-kies daarna dat sy ʼn “regte man” is.

“Ek is kol. Saunders – nog dieselfde as altyd. Ek is definitief nie ʼn vrou nie,” terg sy in die video.

Ander bekendes wat al die kolonel se skoene volgestaan het, is Rob Lowe, Ray Liotta, Norm MacDonald, Darrell Hammond en Jim Gaffigan.

Kol. Saunders, wat 36 jaar gelede oorlede is, het in 1930 vir die eerste keer sy gewilde hoenderlekkernye begin verkoop. Dié franchise word nou besit deur die Amerikaanse maatskappy Yum Brands Inc.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Valerie ·

So is daar nie een man wat soos die “colonel” lyk in die hele VSA nie? Wat is die propaganda agter hierdie move?

Heidi ·

Agnee, lyk baie aardig. Genoeg om my van die kolonel se hoender af te sit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.