Saoedi’s kan ná 35 jaar weer fliek

Argieffoto (Foto: annca, Pixabay)

ʼn 35-jaar lange verbod op flieks in Saoedi-Arabië is opgehef.

Die eerste fliekteater kan moontlik in Maart 2018 sy deure oopmaak, het die ministerie van kultuur en inligting Maandag gesê. Die reguleerder in die koninkryk, die raad van die algemene kommissie vir oudiovisuele media, het ingestem om lisensies toe te ken aan teaters.

Die besluit is deel van die koninkryk se Visie 2030-plan, wat deur Saoedi-Arabië se kroonprins, Mohammed bin Salman, van stapel gestuur is om die land se deure oop te maak vir beleggings en om die koninkryk se ekonomie, wat sterk op oliehandel steun, te diversifiseer.

“Die flieks sal ʼn katalisator wees vir ekonomiese groei en diversifikasie; ons kan nuwe werk- en opleidingsgeleenthede skep en die koninkryk se vermaaklikhede verryk,” het minister Awwad al-Awwad gesê.

Na verwagting sal 300 rolprentteaters met meer as 2 000 skerms, teen 2030 beskikbaar wees in die land. Dit is die eerste keer dat rolprentteaters gelisensieerd sal wees sedert die verbod in die vroeë 1980’s.

Die kroonprins, wat in Junie aangestel is, het onderneem dat die koninkryk sal terugkeer na ʼn “gematigde Islam” en hy werk daaraan om die invloed van die streng godsdiensreëls in die land te verminder.

Mohammed (32) was vermoedelik ook verantwoordelik daarvoor dat die verbod teen vroulike motorbestuurders opgehef is. Vroue mag sedert Junie vanjaar weer motors bestuur.

Die akteur Hisham Fageeh het die aankondiging verwelkom. “Dit voel asof ons deur die apokalips beweeg en oorleef het en nou ʼn nuwe samelewing gaan skep.”

Fageeh was te sien in die 2016 Saoedi-fliek “Barakah Meets Barakah”. Dit is deur Saoedi-Arabië ingedien vir beste vreemdetaalfliek by die Oscar-toekennings in 2017. Die fliek het een openbare vertoning in Saoedi-Arabië gehad by die King Abdullah Economic City, aangesien dit een van die vereistes is voor ʼn fliek vir die Oscar-toekennings genomineer kan word.

“Ek voel goed, maar ek is geskok,” het Fageeh bygevoeg. Hy is ook ʼn skrywer en ʼn vervaardiger. “Ons hoor dit nou al jare lank, en almal sê dit gaan binnekort gebeur. Nou lyk dit meer realisties. Maar ek gaan dit nog steeds nie glo voor ek dit sien nie.”

Fageeh het gesê daar is welgesteldes in die land wat hul eie persoonlike fliekteaters opgerig het, maar dit is nie vir die publiek beskikbaar nie. “Alles gebeur agter geslote deure.”

Hy werk tans aan ʼn nuwe fliek en dit sal na verwagting die eerste fliek wees wat in die teaters sal draai in Maart 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.