Seemeeue, pizza en ʼn groot gemors in ʼn hotelkamer

Foto: Nick Burchill, Facebook

ʼn Luukse hotel in British Columbia het amptelik sy verbod opgehef op ʼn voormalige klant wat 17 jaar gelede ʼn omstrede voorval in die hotel veroorsaak het – met ʼn tas vol warm pizza en ʼn swerm seemeeue.

Nick Burchill het in 2001 by die Fairmont Empress in Victoria ingeboek met ʼn tas vol Brothers TNT Pepperoni – spesiale pizza uit sy tuisdorp, Halifax, Nova Scotia. Hy was op ʼn sakereis en sou van sy vriende van die vloot gesien het, en hulle het versoek dat hy dié lekkerny moes saambring.

Die kamer het egter nie ʼn yskas gehad nie, en om sy waardevolle vleis-vrag te bewaar, het hy die pizza op ʼn tafel naby ʼn oop venster gelos, om seker te maak die koel April-luggie sou dit kon verkoel.

Hy het in die buurt gaan rondstap en het later teruggekeer en ʼn hele swerm seemeeue in sy kamer aangetref.

“Die seemeeue het oral rondgevlieg en hulle was al ʼn rukkie daar en het aan die Brothers TNT Pepperoni gesmul, so jy kan jouself indink hoe die kamer gelyk het!” het Burchill op Facebook verduidelik. “Die seemeeue het rondgevlieg, die gordyne is beskadig, lampe is beskadig, dit was ʼn groot gemors.” Hy reken daar was tussen 30 en 40 seemeeu in die hotelkamer.

Hy kon uiteindelik meeste van die voëls uit die kamer jaag. Een van die voëls wou terugkeer, maar hy het ʼn skoen in die voël se rigting gegooi – en die skoen en voël is by die venster uit. Een laaste seemeeu, wat nog beangs in die vertrek rondgevlieg het, het hy uiteindelik met ʼn handdoek getakel en die handdoek en seemeeu ook uit die venster gegooi.

“Kom ons keer terug na die hotelkamer. Dit het baie sleg gelyk. Daar was baie skade. Boonop het ek net onlangs by my nuwe werk begin en ek wou nog ʼn goeie indruk maak by die belangrike geleentheid wat ek moes bywoon. Ek het besluit om vir eers voort te gaan en die moles later te hanteer. Dis toe dat ek besef ek het net een skoen en net ʼn paar minute voor ʼn belangrike ete.”

Hy het sy skoen en die handdoek buite gaan haal, maar die skoen het in nat grond langs die voetpad beland. “Die skoen was baie vuil. Ek is terug na my kamer. Ek het die modder afgewas in die badkamer en dit het mooi skoongekom, maar nou het ek een nat, donker skoen, en een droë ligte skoen. As ek nou daaraan terugdink, moes ek bloot net die droë skoen ook natgemaak het, maar ek het gekies om die skoen met ʼn klein haardroër droog te maak.

“Dit het eintlik goed gewerk. Ek het die haardroër in die skoen ingedruk en die telefoon het gelui. Ek is na die slaapkamer om dit te antwoord, toe die krag afgegaan het. Dit blyk die haardroër het uit die skoen gewikkel en in ʼn wasbak vol water beland. Dit het ʼn kortsluiting in die hotel veroorsaak en ek weet nie hoe groot die kragonderbreking was nie.”

Die sakeman het in hierdie stadium hulp van die ontvangstoonbank ontbied. “Ek onthou nog die uitdrukking op die skoonmaker se gesig toe sy die deur oopgemaak het. Ek het glad nie geweet wat om vir haar te sê nie, so ek het net gesê ek is jammer en ek het die ete gaan bywoon. Toe ek teruggekeer het, het hulle al my besittings na ʼn kleiner kamer geskuif.”

Burchill is later in kennis gestel dat sy werkgewer ʼn brief ontvang het om te sê dat hy lewenslank uit die Empress-hotel verbied word. “Ek het hierdie verbod byna 18 jaar lank gerespekteer.”

Burchill het vroeër vanjaar ʼn brief met ʼn verskoning aan die hotel gestuur. Alhoewel die skoonmaker nie meer by die hotel werk nie, het verskeie van die hotel se werknemers van die voorval te hore gekom. Saam met die brief het hy ook pizza van Brothers TNT Pepperoni aan die personeel gestuur – en sy plan het gewerk!

“Die hotel het my aansoek hersien en Ryan, die bestuurder, het my intussen laat weet dat ek weer welkom is om as gas in te boek by die hotel. Ek wed julle dit was die Brothers Pepperoni wat gehelp het!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LOL ·

Hierdie insident moet op een of ander tyd op film vasgele word. Dit is net te snaaks om verlore te gaan.

De Villiers ·

Dis wat ‘n mens noem, Murphy’s Law, en dit het hierdie persoon se adres behoorlik gekry daardie dag. Die arme man.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.