Seewiersakkies in plaas van plastiekbottels gebruik

Seewierkapsules is met energiedrankies gevul en by die Londen-marathon gebruik (Foto: Gareth Fuller/PA via AP)

Langasems wat Sondag aan die Londen-marathon deelgeneem het, het ʼn groot verrassing gekry by die waterpunt op ongeveer 37 km – gholfbalgrootte sakkies van seewier wat met ʼn energiedrankie gevul is.

Die sagte sakkies, wat soos klein kussinkies lyk, is aan duisende hardlopers uitgedeel en bied aan wedrenorganiseerders die geleentheid om hul plastiekspoor te verklein by groot sportgeleenthede.

Die seewiersakkies, genaamd Ooho, is deur ʼn Londense beginmaatskappy, Skipping Rocks Lab, ontwerp. Dit is eetbaar en bioafbreekbaar. Dit los binne ʼn maand op as dit weggegooi word, aldus die maatskappy. Atlete byt die sakkie oop om die vloeistof uit te kry of hulle kan die hele sakkie eet.

Beeldmateriaal van die wedren het gewys dat meeste hardlopers sommer die hele sakkie geëet het en dit is dus ʼn grootskaalse eksperiment in die gebruik van ʼn alternatiewe volhoubare materiaal.

“Ons gebruik die boublokke van seewier,” het Rodrigo Garcia Gonzalez, ʼn stigterslid van Skipping Rocks Lab, aan CNN gesê, met verwysing na die buitenste wand van die sakkie. “Ons verwyder al die groen en onwelriekende materiaal.”

Hy beskou die marathon as ʼn mylpaal. “Ons hoop dit wys dat dit in die toekoms op grootskaal gebruik kan word,” het Gonzalez bygevoeg.

Meeste plastiekwaterbottels kan herwin word, maar die gebruik het die afgelope paar jaar só toegeneem dat pogings, om die materiaal te herwin, nie kon bybly nie, aldus die Guardian. Die koerant berig ongeveer een miljoen plastiekbottels word wêreldwyd per minuut aangekoop – en dié getal sal na verwagting oor die volgende paar jaar toeneem omdat aanvraag na plastiekbottels in Asië toeneem.

Wetenskaplikes beskryf plastiekrommel, wat hoofsaaklik in die oseaan beland, as “een van hierdie generasie se grootste omgewingsuitdagings”.

Wedrenorganiseerders het aangedui dat hulle die gebruik van plastiek wil verminder en het die afgelope naweek op Twitter bevestig dat alle plastiekbottels wat tydens die Londen-marathon gebruik is, herwin sal word. CNN het berig die getal plastiekbottels het afgeneem van 920 000 in 2018 tot 704 000 vanjaar.

“Die veranderinge wat ons hierdie jaar aangebring het, het die vermoë om ʼn groot verandering teweeg te bring,” het Hugh Brasher, direkteur van die Londen-marathon, aan CNN gesê.

Skipping Rocks Lab sê op sy webwerf dié onderneming “laat verpakking verdwyn”. Die maatskappy voer aan hul seewierpakkies kan ook, buiten water, vir alkoholiese drankies, vrugtesap en selfs tamatiesous en slaaisous gebruik word. “Espresso Martinis is die gewildste produk by feeste en om die verpakking te eet, is nou ook deel van die ervaring,” het Pierre-Yves Paslier, Gonzalez se sakevennoot, aan CNN gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Judge Dredd ·

Baie geluk aan Food Lovers Market in SA wat sedert laasjaar papiersakke beskikbaar stel in hulle winkels. Maar die klant moet R1.99 opdok daarvoor, heelwat meer as vir n plastieksak. Sal graag wil hoor hoeveel vd papiersal subsidieer FLM as deel v hulle sosiale verantwoordelikheid om die omgewing skoon te hou? Of moet die arme gebruiker als betaal?

Dick de Dunnerin ·

Neem eie sakke saam. So spaar jy ook die water wat met vervaardiging van papier gepaard gaan. Baie papiersakke het ook plastiek in.

Michelle leR ·

As dit as alternatief gebruik kan word: wonderlik. Vraag wat opkom is dan net of die see nou meer geplunder word?

chantel ·

Heel interessante berig
Ek dink nou aan die plastieksakkies dis nie naasten by so groot probleem soos ”illegal dumping”ek het n man gesien paar groot vullis sake net langs die pad gooi
en kon net n registrasie en maak van die voertuig kry
waar kan mens ooit die dinge rapporteer of kort mens foto bewys

Johanna Botha ·

Wonderlik nou moet net aandring dat eetplekke ook eerder papier strooitjies gee as plastiek !

madels ·

Ek kan nie verstaan hoekom maak hulle nie lang pasta strooitjies nie, ek het al gehoor dat dit wel vervaardig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.