Ses trourokke, maar vrou bly enkellopend

Argieffoto (Foto: 652234/Pixabay)

ʼn Vrou het bely dat sy al ses verskillende trourokke bestel het – in afwagting dat sy binnekort die liefde van haar lewe sal ontmoet. Sy is nie in enige romantiese verhouding nie en is ook nie verloof nie.

Mense het gewoonlik al lank voor die tyd sekere idees van hoe hulle droomtroue eendag moet  lyk – nog voor hulle die persoon ontmoet met wie hulle die res van hulle lewe wil spandeer.

Alhoewel meeste van ons ʼn vae idee het van waar ons wil trou of watter kleurskema ons wil gebruik, was een vrou bietjie oorhaastig en het dinge vir haar groot dag begin aankoop – selfs al is sy nie in ʼn verhouding nie.

ʼn Skermskoot van terugvoer wat sy gelewer het op ʼn trourok wat sy gekoop het, is op Reddit gedeel. Die vrou verduidelik dat sy al ses verskillende trourokke bestel het, en nou kort sy nog net ʼn kêrel om haar te vra om te trou.

Haar terugvoer, wat anoniem gelaat is op ʼn Facebook-blad van ʼn winkel wat trourokke verkoop, lui: “Wow! Ek het ses trourokke bestel en hierdie een was die regte een! Maar niemand het my nog gevra om te trou nie. Nou is ek egter gereed vir wanneer dit gebeur!” Die vrou het vyf sterre gegee vir die trourok.

Talle gebruikers hou egter vol die vrou se gedrag is nie “gesond” of “normaal” nie.

“Dis hartseer dat daar vroue is wat iemand wil hê sodat hulle ʼn seremonie kan hê en nie andersom nie. Ek sê vroue, want dit is gewoonlik vroue – waarskynlik weens kulturele redes,” het een persoon geskryf.

“Ek verstaan nie hoe mal weirdos soos dié enigiemand kry wat met hulle wil trou nie. Hoe sal mens dit kan uithou?” wil ʼn ander weet.

Ander gebruikers het egter die vrou verdedig en gesê daar is niks daarmee fout om “vol selfvertroue te wees” of “positiewe energie te hê” vir die idee om te trou nie. “Dit klink of sy vol selfvertroue is. Ek kan nie sien hoekom mense haar veroordeel nie. Trourokke kan mooi versierings wees.”

“Ek hou van haar energie,” skryf ʼn ander.

“Om doelbewus verskeie trourokke te bestel nog voor jy een nodig het is vreemd, maar indien iemand op die regte trourok afkom terwyl hulle gewone inkopies doen en op ʼn winskopie afkom? Ek sien nie ʼn probleem om dit daar en dan te koop en dit dan net vir ingeval te hou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tanniepetoors ·

Jare gelede het n pragtige jong vrou ons (my en haar mede-elke-dag-ry-ons-saam-bus-vriendinne) meegedeel dat sy oortuig is dat sy haar droomman sou ontmoet voor ‘n sekere datum. Sy het ‘n baie duur trourok uitgesoek, laat maak en betaal, ‘n groot onthaal gereël en betaal, troukaartjies reeds uitgesoek (darem nie laat druk nie, want bruidegom was onbekend). Ons het almal heeltyd gedink sy hou ons vir die gek. Op die datum wat sy vir maande vir almal vertel het die troue sou plaasvind, het sy haar eie lewe geneem.
Sy was ‘n baie intelligente vrou met goeie kwalifikasies en ‘n baie senior betrekking, maar o, skynbaar so bitter eensaam.

Chantel ·

Wys net, ander mense se huis is duister. So dra ons elk ons eie kruis.

Misky ·

Dis ‘n baie hartseer storie. Dankie vir die deel daarvan Tanniepetoors

M.P. ·

Eks is seker ook een van die weirdos maar ek love troues. Het al vir my man gesê as ek kon sou ek elke jaar trou solank dit met hom is… hahaha maar ons is al 10 jaar gelukkig getroud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.