Seun se versteekte briefie 125 jaar later gevind

William Elliot se briefie (Foto: Seventeen Nineteen/PA Images)

ʼn Koorseun het in 1897 ʼn briefie geskryf en dit in ʼn kerkbank weggesteek, en dit is nou, 125 jaar later, gevind.

William Elliott was 13 jaar oud toe hy die briefie agterop ʼn koorblaadjie geskryf by die Sunderland Parish Church in Engeland en het dit in ʼn kerkbank versteek, berig die Sunderland Echo.

Tydens die Covid-19-afsonderingsperiode is daar met herstelwerk begin aan die gebou en iemand wat die houtbanke ondersoek het, het iets ongewoon opgemerk. Hulle het besef dit is papier en uiters delikaat en restoureerders het daaraan gewerk om dekades se stof, vuilgoed en politoer te verwyder sodat dit ontsyfer kan word.

William het met ʼn potlood geskryf: “Liewe vriend, wie ook al op hierdie briefie afkom, dink aan William Elliot wat twee maande en twee weke en vier dae gehad het op 11 Augustus 1897. As jy hierdie briefie vind, moet dit nie opskeur of weggooi nie, hou dit ter nagedagtenis aan my, W Elliot. Ek was die hoofseun van hierdie koor. Ek is lief vir jou as jy lief is vir my.”

Navorsing deur Seventeen Nineteen-vrywilligers, wat die gebou oorneem, het ontdek dat William se pa hoofbeampte Thomas Duncan Elliot was wat op die Skyros gevaar het voor hy in 1887 oorboord geval en in die see verdwyn het.

Tracey Mienie by William Elliot se briefie (Foto: Seventeen Nineteen/PA Images)

William se ma, Sarah Ann Elliott, was ʼn weduwee met vier kinders en alhoewel die gesin tot in daardie stadium redelik welaf was, moes sy teen 1897 as ʼn rokmaker werk om die gesin te laat staande bly.

William het in aanmerking gekom vir ʼn weeshuis ná sy pa se afsterwe en is die volgende jaar aanvaar. Hy is op 29 Oktober 1897, sy 14de verjaarsdag, uit die weeshuis gelaat – net weke ná hy die briefie geskryf het.

Hy het die see vermy, anders as talle ander seuns by die weeshuis. Hy het later vir ʼn plaaslike prokureur begin werk.

Daar is nie enige verdere inligting oor hom ná 1901 nie.

In die kerk se Lady Chapel, langs dieselfde sitplek waar hy die briefie geskryf het, is egter ʼn hout-gedenkplaat met talle name van die kerk se mans en seuns wat in die Eerste Wêreldoorlog omgekom het. Een van die name op die bord is W Elliot.

Sy brief het Seventeen Nineteen aangespoor om die “The Dear Friend”-projek van stapel te stuur. Enigiemand wat graag wil, kan ʼn briefie vir William terugskryf.

“Sy briefie het ons almal aangeraak,” het Tracey Mienie, bestuurder van die sentrum, gesê. “Hy was duidelik baie bewus dat sy tyd by die weeshuis, en in die koor, tot ʼn einde kom en ek dink hy was besorg oor sy toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bonzaai ·

Dis die klein dingetjies in die lewe wat die grootste verskil maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.