Seun slaan werk los ná vermanings by skool

Joe Whale voltooi sy kunswerk. (Foto: Greg Whale)

ʼn Negejarige skoolseun wat alewig in die moeilikheid beland by sy skool se onderwysers omdat hy eerder op sy boeke krabbel as om in die klas op te let, het ʼn werk as kunstenaar losgeslaan.

Die jong Joe Whale van Engeland se ouers het in plaas van om hulle aan die vermanings van onderwysers te steur, sy talent raakgesien en besluit om die talent te ontwikkel deur Joe vir ekstra kunslesse te stuur. Na sy kunsjuffrou sy talente raakgesien het, het sy ʼn foto van sy kunswerke op Instagram gedeel.

Daar het die Number 4-restaurant, in Shrewsbury, Engeland, sy kunswerke ontdek. Dié restaurant het toe vir Joe gevra om sy mure te kom versier. Dit het Joe sowat 12 ure geneem om die muur vol te teken, berig Bored Panda.

Joe se pa, Greg Whale, het aan Bored Panda vertel dat sy seun en sy identiese tweelingbroer, Jesse, al in kleuterskool, op vierjarige ouderdom, as begaafd erken is.

“Ek sal aan ouers voorstel om hulle kinders aan te moedig om altyd hulle drome te volg en te doen waaroor hulle passievol is – soek plaaslike werkswinkels uit, of groepe in jou gemeenskap wat jou kind kan leer om hul talente te ontgin,” is Whale se raad aan ander ouers.

Joe Whale staan nou bekend as The Doodle Boy. (Foto: Greg Whale)

Joe staan nou bekend as The Doodle Boy en het alreeds sy eie webwerf en sosialemediablaaie, insluitend Instagram. Hier het Joe ʼn plasing gedeel dat hy nog kunswerke verkoop het, waarvan een na Hertfordshire, Engeland, onderweg was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Liefie ·

Ek stem. Hou op kinders almal in dieselfde blik te druk. Ek het twee sulke seuns. Uniek op hulle eie.

Realis ·

Doen waarvan jy hou en jy werk nie ‘n dag in jou lewe nie.

Karel ·

As almal moet doen wat hulle wil, gaan baie nie kan eet nie en baie were gaan leeg staan. Dis juis sulke uitkyke en sê-goed wat deesdae se kinders so ruggraatloos het. Hul kan nie vasbyt as dinge by n werk moeilik raak nie, wil nie vir base luister of onder begin nie. Alle plesiertjies sit nie kos op die tafel nie. Een kan hou van kook en duisende resepteboeke en restaurant hê n ander kom nêrens met sy goeie kookvernuf nie. Een skilder en kripeer n ander maak duisende. Dieselfde met sang. Swakste uitkyk nog en baie kinders val vir dit en kom dan nêrens nie. Doen waarvan jy hou vir n stokperdjie, maar dis mos n woord wat uitgesterf het.

Mel ·

Sjoe Karel – ek is so bly ek is nie jou kind nie.
As jy doen waarvan jy hou en waarin jy goed is sal jy mos baie beter presteer as om ‘n werk te doen wat jy elke dag MOET doen en jy haat elke oomblik. Jy het ‘n ongelooflike siniese uitkyk meneer.
Hoe dink jy het daai chef met sy kookboek ‘n groot sukses gemaak? Hy het PROBEER. Ja, nie almal maak dit groot nie – maar as jy nie probeer nie – gaan jy NOOIT weet nie.

Destarte ·

@Karel en @Mel. Karel ek hoor presies wat jy sê, en ek verstaan jou punt 100% en stem saam. Selfde tyd @Mel, ja, probeer, dit is nodig en belangrik, (ek was ongelukkig nooit daai keuse gegun as kind nie) maar mens moet steeds rugraat hê en bereid wees om te werk as jou keuse van “doen waarvan jy hou” nie voldoende kos op die tafel sit nie. Dit is n onderwerp wat baie opinies sal uitlok. Ek dink die belangrike is om altyd n gesonde balans te handhaaf. Dit is belangrik dat kinders geleer word “jy dra die gevolge van jou keuses en dade in die lewe” Jy kan nie net doen wat jy wil, gereeld n nuwe guur kry, en ander moet elke keer jou kastaings uit die vuur krap nie. Jy maak n besluit en dan moet jy vasbyt en dit maak werk. Ek dink dit is wat Karel ook probeer sê.

Realis ·

@Karel – Ek ken baie mense wat ‘n werk doen waarin hulle lewensongelukkig is. Een is ‘n rekenmeester wat graag ‘n ingenieur wou wees. Sy Pa was ‘n rekenmeester en hy toe ook. Hy is nie werkloos nie, maar hy haat elke dag wat hy werk. Ek het as kind gehou daarvan aan goed te peuter en dinge uit te vind en goed “reg” te maak. My loopbaan is presies dit 40 jaar later. Ek peuter nog steeds aan goed en ek maak baie goeie geld. Dit voel nie of ek werk nie. DIS wat ek bedoel met my stelling.

Mel ·

@Destarte. Dankie vir die perspektief op Karel se opinie. Ek het vurig reageer en net die een kant gesien. Ek stem saam jou – dit maak sin. Daar moet balans wees en mens moet bereid wees om te werk. Daar is nie baie mense wat so gelukkig is om hulle passie te kan leef nie. Maar dis belangrik dat hulle nie hulle passie vergeet in die groter prentjie nie…iewers kan ‘n deurbraak kom!

Maria ·

wow ! Ek dink n wonderlik idee en plan vir besonders vir kuns kinders. Ek dink weer aan die Geeslik boek skrywer Francine Rivers “MEESTERSTUK” kuns vreeslik mooi.

Karel ·

Realise, Destarte het presies opgesom wat ek bedoel het. As my kind n Dr, ingenieur, rekenmeester of wat ook al wil word gee ek nie om nie en sal hul nooit keer nie, maar ondersteun, maar as jou kind dink met hul kuns gaan hul ver gaan, maak hul n fout, daai kuns moet omgesit word in grafies of iets in n kunslyn, maar om prente te skilder (of selfs sang/sing) en te dink jy gaan ryk word is net vir sekeres beskore, regte plek, regte tyd en regte mense wat jou sien en dis te groot gamble.

Sê net ·

Ek bedoel dit regtig nie lelik nie, maar dit moet regtig besig wees binne in die kind se kop. Dis soos om permanent op inspirasie trip te wees. Die gedagtes borrel uit en hy verewig dit dadelik met sy pen. Tot ‘n mate beny ek hom. Tussen al die gekrabbel is daar briljante insigte en verbintenisse wat ons nie kan herken nie. Hy moet dalk met iemand wat weet watter vrae om te vra, gaan sit en gesels. Ek sien ‘n Einstein of Tesla as iemand hom dalk kan help om sy gedagtes te kan orden. Baie van die briljante breine in die verlede was ook gesien as eksentriek want hulle het net te veel inligting gehad wat uitgeborrel het en min mense het dit verstaan.

ADHD ·

Net soos jy daar se “Se Net”. Die kind het heel waarskynlik ADHD. My seuntjie is so. Jy kan sommer sien as sy kop besig raak. Hy doen nou “homeschooling” omdat hy TE BESIG was vir sy juffrou. As ek se”homeschooling” bedoel ek by ‘n “homeschooling” sentrum. Ek voel jammer vir sulke kinders want hulle kan nie beheer wat in hulle koppies aangaan nie. Hy’s baie lief vir teken en liedjies opmaak. Dis wanneer hy op sy gelukkigste is. My seuntjie is 7 en nog altyd by die skool gebrandmerk as “stout”. Maar ek weet hy’s baie slim want sy Homeschooling juffrou het al vir my gese – en ‘n opvoedkundige sielkundige. Dis eintlik wonderlik om sulke kinders ook te he, al het hulle “limitations” , let wel nie “disabilities” nie.

LB ·

Kreatiewe mense se breine is wel heeltyd besig, dit is wat hulle so uitsondelik en begaafd maak omdat gedagtes en idees konstant ontstaan. Dit is beslis nie iets wat vasgepen of georden kan word nie, daardie brein het juis vryheid nodig om te kan ontwikkel in wat dit veronderstel is om te wees. Daar is so baie reëls en regulasies wat wel nodig is, maar in die geval is die ouers wonderlik om hom te laat wees wie hy geskape is om te wees. ‘n
Tesla is mos ‘n voertuig, of nie?

VanAfrika ·

As hulle net n stelsel wil vind wat mense se aanleg van jongs af kan uitvind en hulle in daardie rigting gekwaam sal minder van ons uiters gefrustreerd in kantore sit omdat ons daar moet sit om n lewe te maak. Ek voel ek was vir iets anders gebore, maar omstandighede en samelewing dwing jou om n salaris te verdien tussen vier mure met n baas wat heeldag in jou ore kekkel.

RIA de Jager ·

Konsentreer van vroeg af daarin jou kind belangstel. Almal reageer met ADHD kind is stuur ma ouers probeer hom nie reghelp om vir hom te verduidelik, hy moet praat as hy voel hy will nie aandag gee waar jy aandag verlang nie.

Essa ·

Karel is 100% reg. Dit is ‘n genade as jy jou belanstellings en talente in werk kan omskep, maar dit is nie almal beskore nie. Daar is werk wat vir geen normale mens ‘n droom job is nie, maar dit moet gedoen word. Dis waar vasbyt en ruggraat ter sprake kom. “Leef jou passie” en dies meer is onrealistiese motiverings praatjies.

HB ·

Karel Jy is eintlik ver van reg. Sommige mense is gelukkig om dmv hulle droom beroep ‘n goeie bestaan te maak. Ander mense wat nie so gelukkig is nie vind maniere om hulle kuns deeltyds te beoefen. Kunsinnige mense moet uiting gee en hulle passie volg. Nie almal sal dit verstaan nie. Ek beskou jou stelling as onsensitief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.