Skink vir jou kat, hond ook ʼn glasie wyn

Apollo Peak se hondewyn (Foto: Huffington Post)

Apollo Peak se hondewyn (Foto: Huffington Post)

Jy kan nou ook vir jou hond ʼn glasie, of eerder ʼn houertjie, wyn skink wanneer jy ʼn glasie saam met ʼn ete of tydens ʼn geselligheid geniet.

Die vervaardiger Apollo Peak het vandeesweek hul Zinfantail- en Chardognay-wyn vir honde bekendgestel.

Dit volg nadat dié vervaardiger in Maart vanjaar ook ʼn alkoholvrye wyn vir katte bekendgestel het.

Apollo Peak het in ʼn verklaring gesê waar die wyn vir katte kattekruid bevat om ʼn stimulerende effek te hê, word peperment wat gebrou is en kamillekruid gebruik om honde te kalmeer.

Brandon Zavala, stigter van dié vervaardigersmaatskappy, het gesê die produk is tot dusver net in die VSA beskikbaar in 350 ml botteltjies.

“Ons het nog altyd beplan om iets vir honde te doen, ons het net gewag tot die tyd reg is. Die wyn bevat geen alkohol of geen druiwe nie, omdat albei daardie bestanddele gevaarlik vir honde is. Die rooi skynsel van die wyn word verkry deur beet,” het hy gesê.

Zavala sê die maatskappy het genoeg navorsing gedoen om te verseker dat die kamille nie gevaarlik vir honde is nie. “Baie daarvan kan potensiële gevare inhou, maar in matige hoeveelhede is daar geen gevare nie. Dit dien meer as ʼn verslapper, hulle gaan net lekker voel, nes wyn vir mense doen,” het hy geskerts.

Ina Wismer, mediese direkteur van die ASPCA-gifbeheersentrum in Amerika, sê negatiewe gevolge van kamille word ook net beperk tot katte.

“Wat dit wel kan doen, is om allergieë te vererger as daar reeds ʼn allergie is vir ʼn spesifieke plantfamilie,” het sy gesê.

Zavala sê eienaars moet troeteldiere net deurentyd monitor en gereeld vir ondersoeke na hul veeartse neem.

Daar is nog geen planne om dié wyn in te voer nie.

Besoek Apollo Peak se webwerf vir meer inligting.

Bron: Huffington Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

M A ·

Ai, ek het net begin bly word. My boorgat het opgedroog en nou drink ek maar wyn want daar is nie water nie. Dit sou goed wees as ek vir die honde en katte ook wyn kon gee. ?

johann cb ·

Lekker hondejol en kattermaai! Nou sal daar nie meer hond-se-gedagtes en kat-in-die-donker-knyp wees nie. Hulle sal soos babas slaap. Lekkerrrrr snork ons nou…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.