Slaap binne twee minute met dié tegniek

Argieffoto (Foto: xiangying_xu, Pixabay)

ʼn Weermaggeheim om slapelose nagte te voorkom, het aan die lig gekom.

Die mansleefstylwebwerf Joe.co.uk het op dié tegniek afgekom wat die Amerikaanse weermag glo al jare lank gebruik en dit gepubliseer. Lesers het dit vinnig oral begin deel.

Die metode is aanvanklik in 1981 in ʼn boek, Relax and Win: Championship Performance, onthul. Die boek het raad aan lesers verskaf hoe hulle “sportprestasie kan verbeter en beserings kan voorkom” deur voor deelname aan kompetisies te ontspan.

Een van die metodes is na bewering deur die Amerikaanse weermag ontwikkel met ʼn 96% sukseskoers ná ʼn persoon dit ses weke lank geoefen het. Volgens die metode sal die persoon glo binne 120 sekondes insluimer.

Die Amerikaanse weermag het egter ʼn vrywaring bygevoeg dat elke persoon self moet kyk wat vir hulle werk. “Daar is nie ʼn towerformule anders as om net na jou eie liggaam te luister nie.”

Meer persone word deur slapeloosheid geraak as wat vroeër vermoed is en word in twee kategorieë verdeel, naamlik persone wat glad nie kan slaap nie en persone wat aan die slaap raak, maar minstens een keer deur die loop van die aand wakker word. Verskeie gesondheidsprobleme kan tot slapeloosheid lei, waaronder diabetes, hartprobleme en depressie.

Só werk dit:
1. Ontspan jou gesigspiere (insluitend jou tong, kakebeen en die spiere om jou oë)
2. Laat sak jou skouers so laag as wat jy moontlik kan; ontspan dan jou bo-arm en onder-arm aan die een kant en dan aan die ander kant.
3. Asem uit, ontspan jou borskas.
4. Ontspan jou beenspiere, van die bobene tot by jou kuite.
5. Sodra jy al jou spiere ontspan het, verbeel jou dan die volgende: jy lê in ʼn kano op ʼn kalm meer met niks behalwe die blou lug bo jou nie; of jy lê dalk knus in ʼn sagte hangmat in ʼn pikdonker kamer. Herhaal dan die woorde “moenie dink nie, moenie dink nie” vir minstens 10 sekondes lank.

As dit ná ses weke nog steeds nie vir jou werk nie, is jy waarskynlik in die 4%-groep wat alternatiewe metodes moet ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gerda ·

……en hier raak ek nou wakker waar ek le en kwyl op my rekenaar na ek die tegniek probeer het….
Heheheee

Frikkie ·

As jy vir ses weke lank glad nie kan slaap nie gaan alternatiewe metodes ook nie help nie :)

E.K. die eerste ·

“Moenie dink nie, moenie dink nie…” maar my brein WIL en SAL ongelukkig dink. Het al alles probeer. Soms slaap ek weke lank goed en dan skielik weer amper niks of bitter min. Grootste straf ooit!

TWAK MAN ·

Jy moet dink “moenie dink nie..moenie dink nie..moenie dink nie” . Dan dink jy mos. Laat my dink aan die dogtertjie wat vir die Sondagskool jufrou sê ” Jufrou, Jannie se oë was oop toe ons gebid het” Toe vra jufrou “Hoe weet jy Jannie se oë was oop as joune nie ook oop was om dit te sien!!”

MJ ·

‘n Voldag se werk, twee klein kindertjies daarna en alles wat gedoen moet word in ‘n huishouding – dis ook ‘n goeie ‘tegniek’ om vinnig aan die slaap te raak!!

marco polo ·

Hierdie is darem wraggies nie nuut of rewolusioner nie. Dit staan ook bekend as Progressive Muscle Relaxation, ek gebruik dit al jare.

Lynni ·

Koekie seep in bed werk glo soos bom. Haal seep uit papier en gooi enige plek in bed. Mense wat dit doen vertel dit werk. Kos niks om te probeer.

Cherokee ·

Soos marco polo sê, dit is alles behalwe nuut. Die ontspanningsdeel van die resep ken ek al vir dekades. Nie dat dit werklik werk nie. Dit sal dalk werk vir mense wat dit kan regkry om aan niks te dink nie (weet regtig nie wie húlle is nie). Sien ‘n vierkant met niks daarin in jou gedagtewêreld en let op hoe die gesiggies van alle kante oor die rand daarvan loer en vir jou lag. Hoe nader dit aan slapenstyd kom, hoe meer en meer word die gedagtes helder.

Nico ·

Nou verstaan ek hoekom van die politici so lekker slaap in die parlement. Dis nie “moenie dink nie” deel.

Katerina ·

Ek beny my man vreeslik vir hoe vinnig hy aan die slaap kan raak. Like an appliance that just switches off. Hy se hy het dit juis daardie jare in die weermag aangeleer want mens moes eenvoudig slaap wanneer jy die geringste kans kon kry.

ChrisE ·

Ek het ook ‘n maklke metode. Eerstens skakel die lig af. Gaan lê op die bed op jou rug met jou hande agter jou kop. Haal ten minste 10 keer diep deur jou neus asem. Jy moet so diep asem haal dat dit “pyn” n jou longe (bors) . Blaas jou asem dan stadig uit. Moenie minder as tien keer diep asem haal nie. Doen dit vir soveel jy wil. Ontspan dan daarna jou hele lyf.

Susan ·

Het nog altyd met die uil se oë in die aand gaan slaap.
Na my kind se afsterwe in ‘n motor ongeluk het dit erger geraak. Sukkel nog steeds met insomnia & het al letterlik alles probeer. Gee nou maar op en slaap nog steeds met die uil se oë

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.