Só moet jy ʼn hond krap

Argieffoto (Foto: photosforyou/Pixabay)

Jy dink dalk jy weet presies hoe om ʼn hond te krap, maar veeartse sê daar is sekere etiket wat jy moet volg voor jy ʼn hond krap. Dit is veral waar vir ʼn hond wat jou nie ken nie.

Honde het verskillende persoonlikhede en dit help om basiese honde-sielkunde en liggaamstaal te ken voor jy daardie oulike hond in die park nader.

Die beste manier om kontak te maak met ʼn hond (nadat jy natuurlik eers die eienaar se toestemming gekry het) is om jou hand uit te steek sodat die hond jou hand kan ruik. “Honde leef baie meer deur hul reuksintuig as hul visuele sintuig,” sê dr. Uri Burstyn, ʼn veearts van Vancouver wat opleiding aan troeteldiere verskaf op YouTube. Hy het aan Mental Floss gesê dis ook belangrik dat jy jou hand opgekrul hou, asof jy groente sou kap – indien die hond dalk bedreig sou voel en dalk na jou vingers sal hap.

As die hond gemaklik is en nie wegtrek nie, dan is die beste manier om die vreemde hond onder sy ken te krap. Burstyn sê dis belangrik om nie die hond op sy kop te klop nie. Dit kan as ʼn dominerende, aggressiewe gebaar voorkom, omdat honde gewoonlik met hul neus afkyk. As die hond skielik iets op sy kop voel, kan hy dink dis ʼn ander hond wat hom wil aanval en dan kan die hond dalk aggressief optree om homself te verdedig. “Daar is ʼn ou grappie dat honde nie op kan kyk nie. Hulle kan, maar hulle doen dit selde.”

Meghan Herron, ʼn veearts van Ohio, waarsku dat dit ook gevaarlik is om ʼn vreemde hond se maag te krap, omdat dit so ʼn kwesbare deel is. “In sommige gevalle kan ʼn hond op sy rug gaan lê om te wys dat hy geïntimideer voel, en om te wys dat hy nie ʼn bedreiging is nie. Mense dink dit beteken die hond wil hê jy moet hom op sy maag krap, maar dit is nie altyd die geval nie,” sê Herron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lizelda ·

Baie interressant. Sal goed wees as MM meer vir ons sulke artikels kan gee oor raad oor diere dan weet ons ook hoe om in situasies op te tree wanneer ons n vreemde hond dalk op straat sien. Wanneer kan n mens nader gaan en kyk of die hond n naam plaatjie het om die eienaar vd hond te bel en wanneer om liewer een kant te staan.

Theo ·

Ek het 5 Rottie tewe na mekaar gehad en dit interessant om hulle persoonklikhede te vergelyk. Net een het gereeld opgekyk of sy nie ‘n vliegtuig sien nie. As hy’ n streep gelaat het , het sy geblaf. Die res het sy ignoreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.