Só werk déjà-vu, meen navorsers

Foto: Pixabay, 771 Images

Foto: Pixabay, 771 Images

Navorsers aan die Universiteit van St. Andrews in die Verenigde Koninkryk het by ʼn internasionale konferensie oor geheue in Julie vanjaar gesê hulle het eindelik ʼn verduideliking vir die déjà-vu-verskynsel gekry.

Akira O’Connor, die hoofnavorser van die universiteit, het tydens dié konferensie gesê die déjà-vu-verskynsel kan grootliks toegeskryf word aan die brein wat ʼn feitekontrole van sy geheue doen.

O’Connor het aan die webwerf New Scientist vertel die groep navorsers het ʼn tegniek ontwerp wat déjà-vu op ʼn kunsmatige manier te voorskyn kan bring. Om dit reg te kry, het hulle ʼn reeks woorde wat met mekaar verband hou aan deelnemers voorgelê sonder om die een woord weg te gee wat al dié woorde verbind.

Deelnemers het byvoorbeeld die woorde “bed”, “kussing”, “droom” en “nag” gesien, maar die woord “slaap” is weggelaat.

Om te verseker dat deelnemers nie die woord “slaap” gehoor het nie, het navorsers gevra of hulle enige woord wat met die letter “s” begin, gehoor het.

Hoewel almal aangedui het dat hulle nie die woord gehoor het nie, was die meeste deelnemers geneig om later te dink dat hulle die woord “slaap” gehoor het, ondanks die feit dat hulle dit in werklikheid nie gehoor het nie.

Deur die gebruik van funksionele magnetiese resonansbeelding het die navorsers opgemerk dat wanneer dié kunsmatige déjà-vu voorkom, die mees aktiewe deel van die deelnemers se brein nie dié is wat normaalweg met geheue verbind word nie, maar eerder die frontale gebiede wat tipies betrokke is by besluitneming.

O’Connor en sy span het tot die gevolgtrekking gekom dat die frontale streke in die brein ʼn mens se herinneringe monitor en terugspeel en deurentyd op soek is na “foute” in die inhoud, en eindelik déjà-vu tot gevolg het.

Hoewel die navorsing nog nie voltooi is nie, kan dit daarop dui dat die brein gereeld gehaltebeheer en die monitering van sy eie aktiwiteite toepas.

Bron: IFL Science

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tonginniekies ·

Ek dink nog steeds die verduideliking wat hulle in die fliek “The Matrix” vir déjà-vu gee, maak meer sin.

Johann ·

As sy nou so skielik soos ‘n helder lig voor my opduik dat die lig na alle kante toe wegspat, en alle stukke van die legkaart val met een oomblik van ‘n ontploffing inmekaar, is sy nou ‘n blondine, ‘n brunet, of dalk ‘n rooikop, een met sulke woeste hare.

Het ek dan nou my deja-vu oomblik gehad?

Janine ·

Interessant. Wat noem mens die verskynsel wanneer jy daardie deja-vu gevoel kry, en kan onthou wat gaan in die volgende paar oomblikke gebeur, al het dit nog nooit gebeur nie. Ek het al ‘n paar keer in my lewe koers verander, of anders opgetree, omdat ek kon onthou wat gaan gebeur al het dit nog nooit gebeur nie. Dit gebeur gewoonlik na ‘n gevoel van deja-vu. Enige ingeligte opinies sal waardeer word, dankie.

Gerald ·

Hallo Janine. Jy is n vrou met n 6de sintuig soos die meeste vrouens het. Die 6de sintuig is die heilige gees van GOD wat jou waarsku van ongewenste dinge wat oor jou pad kan kom. Mans oor die algemeen is meer geneig om hard te lewe en ook so te wil voorkom. Die heilige gees van GOD het n vroulike karakter wat sag met mense werk en daarom meer met vrouens werk as met mans. Dit is hoekom ek dink dat daar eendag meer vrouens in die hemel gaan wees as mans, want mans dink oor die algemeen dat hulle GOD nie nodig het nie. Dit is maar net my eie beskeie mening.

Janine ·

Baie dankie vir jou antwoord Gerald, ek is baie bly daaroor. Al wat ek hoor en lees van die verskynsel is altyd okkulties van aard, en daarmee het ek niks te doene. So bly dit is die Heilige Gees, want ek het God baie lief, dankie vir die inligting en die antwoord.

Ernest ·

Hierdie “navorsing” is die grootste snert wat ek nog gelees het. Die kamtige geleerdes wat so met hulle “deurbrake” kom maak my siek.! Hoe meer ontdekkings hulle maak, hoe swakker word die dienste. Ag nee….wag..!!!!!

Sonette Bosch ·

Jy het nie ‘n De`ja` Vu gehad nie maar ‘n De`ja` Vecu gehad. Daar is verskillende soorte “De`ja” Vu’s” en nie soos almal dink nie.

De`ja` Vu: Die sensasie “Ek het dit alreeds gesien.”
De`ja` Vecu: Jy mag voel “Ek het die ervaring alreeds ervaar.”
De`ja` Senti: Waneer jy voel “Ek het alreeds die gevoel gehad.”
Alter Vu: Wanneer iemand die wereldlyn verskillend onthou.

Jy kan dit gaan google om meer insig te kry.

Ek kry ook dieselfde “vooruit weet” van iets wat gaan gebeur omdat dit party keer soos ‘n flitbeeld voor my afspeel van iets wat gaan gebeur of die herinnering aan ‘n sekere gevoel en jy voel jy ervaar weer dieselfde gevoel en dis soos ‘n voorbode en dan kan ek mense waarsku en het al lewens so gered en kan ek alternatief optree om konflikte te voorkom.

Ek stem dus nie saam met die verduideliking van wat hul as De`ja` Vu verduidelik nie. Dis heel iets anders. Wat hul basies bewys is dat die brein assosiasies maak en net soos jy woorde lees sonder dat jy letterlik elke letter lees in ‘n woord, so kan jy assosiasies maak van wat “saam hoort”.

Vir my is dit ‘n God gegewe gawe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.