Soemo-stoeiers het perde dalk laat skrik

België se Gregory Wathelet by die hindernis met die soemo-stoeier (3 Augustus 2021) (Foto: Behrouz Mehri/AFP)

Ruiters by die Olimpiese Spele in Tokio beweer ʼn lewensgrootte soemo-stoeier langs ʼn hindernis het moontlik verskeie perde se aandag afgelei in die kwalifiserende ronde.

Geen van die perde het waarskynlik al iets soos ʼn soemo-stoeier gesien soos wat hulle Dinsdagaand by hindernis nommer 10 teëgekom het nie.

“Waar mens om die draai kom, sien mens die groot ou se agterstewe,” het Britse ruiter Harry Charles gesê. “Dis nogal baie om na te kyk,” het Ierland se Cian O’Connor bygevoeg. “Dis baie realisties,” het Israel se Teddy Vlock beaam.

Die ruiters beweer dat die perde moontlik in die kwalifiserende ronde vir die dekor geskrik het. ʼn Paar van die ruiters is met punte beboet en hulle sal nie Woensdag aan die finaal kan deelneem nie.

België se Jerome Guery by die hindernis met die soemo-stoeier (3 Augustus 2021) (Foto: Behrouz Mehri/AFP)

Die standbeeld is links van die hindernis in die hoek van die arena. Die soemo-stoeier staan gebukkend vooroor – skynbaar gereed om aan te val. Hy staan met sy rug na die ruiters en perde, so die eerste ding wat hulle sien as hulle om die draai kom, is die man se agterkant.

“Ek het gesien vier of vyf perde het beslis geskrik,” het Charles gesê.

Die baan se hindernisse is hoofsaaklik versier met kulturele items soos geisja-kimono’s, ʼn miniatuur Japannese paleis en tamboere.

Scott Brash van Brittanje en Martin Fuchs van Switserland meen egter dit is die kersiebloeisels aan weerskante van die hindernis wat die perde se aandag afgelei het. Ruiters is egter gewoond daaraan dat die hindernisbaan by ʼn Spele ʼn veelkleurige ontwerp sal hê. ʼn Hindernis met ʼn vreemde vorm het by die 2016-Spele in Rio de Janeiro ook konsternasie veroorsaak. “Mens verwag dit eintlik,” sê Brash. “Mens weet dit gaan kleurvol wees. Mens weet daar gaan baie versierings wees. En dis baie mooi, jy weet? Dis fantasties. Dis wat dit ʼn kampioenskap maak. As dit net gewone spronge was, dan sou dit net soos enige ander week gevoel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
ESTELLE

Ek sou ook geskrik het