Soete vaart vir sjokoladeboot

Twee soetbakkers in die sjokoladeboot (1 Junie 2023) (Foto: Ander Gillenea/AFP)

ʼn Roeiboot wat van 1 500 kg sjokolade gemaak is, het verlede week Donderdag sy nooiensvaart onderneem.

Die boot het van Pasaia-hawe in Gipuzkoa, ʼn provinsie van die Outonome Gemeenskap van die Baskeland in Spanje, vertrek.

Konstruksiewerk het op 17 April begin en meer as 40 koekbakkers, sjefs en bootbouers het saamgewerk om die sjokolade te smelt en ʼn vorm vir die boot te giet. Die boot weeg 1 700 kg.

Twee vrywilliger soetbakkers het op 1 Junie vir die eerste keer op die boot geklim en kon maar net raai of die boot sal dryf en hoe dit op die soutwater sal reageer.

Die skare het hulle entoesiasties aangemoedig toe die twee roeiers in die hawe gevaar het – sonder enige lekkasie.

Plaaslike koekbakker Lorena Gomez, president van Gozoa en een van die projek se promotors, het gesê die boot se kiel, boonste gedeelte en sitplekke is van hout gemaak. Die res, asook die basis, is alles van sjokolade.

Die vaartuig is kort ná 14:00 gelanseer ná ʼn geleentheid met Xabier Agote, president van Albaola en Gomez.

Beamptes het die boot seevaardig verklaar ná ʼn nooiensvaart van 30 minute, aldus plaaslike media.

Twee houtbote is op bystand geplaas indien enigiets skeef sou loop.

Die agt meter lang boot is ʼn replika van ʼn antieke walvisboot wat in die 16de eeu in die stad gebou is. Die oorspronklike boot het aan die kus van Kanada gesink nadat dit die Atlantiese Oseaan oorgesteek het.

Die projek het ten doel om Pasaia as ʼn toeristebestemming te bemark.

Gomez het gesê hulle wou iets skep wat mense kan laat glimlag. “Ons hoop dat die boot sal help om Pasaia beroemd te maak as ʼn plek waar mense sjokolade en maritieme geskiedenis kan kom geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blom ·

Dit was sjokolade wat reeds verval het. Kyk die video, “over 3000 pounds of expired chocolate was used”

Misky ·

Dink net hoe stress daai ouens as die son uitkom en dit raak vrek warm – ha ha ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.