Sosiale media op hol oor prys vir dié huisie

Die eiendom soos RE/Max dit op Property24 bemark het (skermskoot van die advertensie)

Die eiendom soos RE/Max dit op Property24 bemark het (skermskoot van die advertensie)

Die prys van ʼn eiendom in Vredehoek, Kaapstad, wat die eiendomsagent RE/Max vandeesweek te koop aangebied het, het sosialemediagebruikers aan die praat gehad.

Die 21 m² eiendom is vir R950 000 aangebied. Die een badkamer, een slaapkamer-eenheid word as ʼn “uiters seldsame vonds” beskryf “wat bietjie liefde nodig het”. Die eenheid het nie ʼn uitsig nie en is agter ʼn woonstelblok en tussen ander eiendom geleë. Daar is ook slegs straatparkering vir die eiendom beskikbaar.

Teen meer as R45 000 per vierkante meter vir die leefspasie, skop hierdie “kothuisie” stof in die oë van Suid-Afrika se eiendomspryse. Business Tech het in Junie 2016 berig huise in Beachyheadrylaan in Plettenbergbaai beloop ongeveer R46 000 per vierkante meter, R35 000 per vierkante meter vir eiendom in Melrose Arch, Sandton en R31 000 per vierkante meter in Lagoonrylaan, Umhlanga Rocks.

Die eiendom is intussen nie meer op Property24 beskikbaar nie, maar Maroela Media verneem daar is byna daagliks belangstellendes wat na die huisie in St Jamesstraat gaan kyk. Dit is onbekend of iemand al ʼn aanbod gemaak het.

Ander eiendom in Vredehoek, die woonbuurt aan die hang van Duiwelspiek, beloop tussen R37 500 – R44 000 per vierkante meter, vir plekke wat in ʼn aansienlik beter toestand is.

Eiendom in Dockweg in Kaapstad, by die V&A Marina, beloop ongeveer R108 000 per vierkante meter en voornemende kopers in The Ridgeweg en Cliffweg in Clifton sal ongeveer R90 000 per vierkante meter moet opdok.

Dit is egter nie naastenby eiendompryse in Monaco nie, wat tot $67 000 per vierkante meter kan kos, of $50 000 in Hongkong en $40 000 in Londen, aldus World Atlas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Ek is mal oor die mooi klein venstertjie links bo en daai trappies se blou-groen kleur…

Justice ·

Die moontlikheid bestaan dat dit ‘n duiwehok was voor die restourasie – beslis die ideale groote vir iemand wat nie meubels het nie.

miv ·

RE/Max het die pad byster geraak nou dink hulle die mense is so dom om dit te betaal vir daai ou duiwehokkie. Mense moet net weier om sulke belaglike pryse vir eiendomme te betaal. Sommige eiendomsagente jaag die pryse kunsmatig op en met vleiende woorde mislei hulle mense. Dis ‘n skande. Ons bly ook in die Wes- Kaap en lyk my dis ‘n probleem onder sekere Eiendomsagente hier rond. Hulle dink indien jy êrens in die Kaap naby die see bly (waar alles in elk geval oproes en opmuf), is dit nou so wonderlik en moet jy bloedgeld betaal om hier te bly. Ons is ook deur een van hulle mislei wat ons op die ou end duur te staan gekom het. Maak oop jul oë en ore mense en bly uit die vampiere se kloue.

Nee!!! ·

Belaglik! TOTAAL belaglik. Iemand wat daardie prys vir n miniatuur eiendom betaal moet waarlik sy kop laat lees.

m ·

Dis darem baie geld vir so klein hokkie. Watse meubels gaan jy daar insit? Nee hel mens soek darem spasie, wil nie versmoor nie.

karina ·

sjoe, ek sou graag die geskiedenis agter die hokkie wil ken. Wie het dit gebou, wat was oorspronklike doel, wie het erwe opgedeel, is daar nog sulke erfies, ens ens.

Mea ·

Stem saam Karina, ek sou ook graag meer wou weet van die geboutjie se geskiedenis. Dit lyk vir my of dit dalk een tyd ‘n bediende kwartiere of buitekamer kon gewees het..!

Ano ·

Nee wat ek is nie so desperaat om van my geld ontslae te raak nie! Buitendien, ek wil nie buitekant toe gaan om “my mind the change” nie.

Kiepie ·

Wie ookal na die eiendom kyk stel meer belang in die 95m/2 grond as in die duiwehok. En teen R10,000m/2 is dit omtrent par for the course vir die omgewing en omtrent ‘n agste van die die prys van landbougrond. En as ek kyk na waar die duiwehok gebou is is daar nie veel boubeperkings op die erf nie en kan omtrent die volle 95m/2 bebou word. Iemand gaan lekker geld maak hier.

Richard ·

Ja sjoe dis bietjie erg hoor!
‘n Ander realiteit natuurlik is dat huis eiendomme in die Kaap en spesifiek die Kaapse metropool baie hoër is as enige ander plek in die land. Ons trek ook so oor ‘n halwe jaar Kaapstad toe, en ons moes ons somme mooi gaan maak vir ‘n huis. Veral die pragtige skiereiland waar ons wil huis koop moet ‘n mens baie mooi besluit waar en wat jy koop.

Della ·

Belaglik! Dis nie eens so wat wonders aan die binnekant nie. Stem saam met Miv…wanneer hulle jou plek moet verkoop, kom hulle met allerhande nonsense vorendag hoekom jou huis nie baie werd is nie, maar wanneer hulle dit wil verkoop, is dit die beste huis naas gesnyde brood. Met remax het ek self al ‘n stel afgetrap oor ‘n agent wat nie haar werk gedoen het nie en ek geld verloor het. As ‘n GROOT maatskappy (soos almal maar is), net hulle skouers opgehaal en ek moes die gelag betaal.

haha ·

ok die wags huis is pragtig maar waar is die fotos vir die actual huis??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.