‘Spiderman’ durf hoogtes vir vullis aan

(Foto: Wang Zhao, AFP)

“Is ek bang?” vra Yang Feiyue terwyl hy oor ʼn reling trap. “Nee, ek is gewoond daaraan.”

Só sê ʼn 48-jarige rommelverwyderaar wat daagliks langs die Tianmen-berghang in China abseil om rommel op te tel.

Feiyue hang 400 m bo ʼn oënskynlike lugleegte, vasgegordel aan ʼn koord wat deur sy kollegas vasgehou word en aan rotse beveilig is. Wanneer hy klaar is, word hy deur ʼn stelsel katrolle opgehys.

Plaaslike media het Feiyue en sy span na die superheld wat wolkekrabbers uitklim, Spiderman, vernoem.

Die Tianmen-gebied is bekend vir sy natuurskoon, maar word geteister deur waterbottels, plastiek en ander rommel wat deur toeriste gestrooi word.

“Wanneer dit reën, is daar baie weggooibare poncho’s, maar sedert die pandemie kry ons ook gesigsmaskers.”

Die span is in 2010 deur die Tianmen-bergbestuur byeengebring omdat hope rommel by toeristebestemmings in China ʼn algemene verskynsel geword het. Die rommel is grootliks afkomstig van stalletjies wat kos en drinkgoed verkoop.

(Foto: Wang Zhao, AFP)

Nietemin het rommel in die gebied verminder danksy omgewingsbewustheidsprojekte in skole en die media.

“In die afgelope tien jaar het ons al hoe minder rommel opgemerk,” sê Ding Yunjuan, adjunkdirekteur van bemarking by die Tianmen-berg. “Voorheen het ons Spiderman vyf ton rommel per jaar ingesamel, maar deesdae is toeriste meer bewus van omgewingskwessies.”

Feiyue en sy kollegas het in 2020 egter steeds twee ton rommel opgetel – ondanks die Covid-19-pandemie wat die aantal besoekers aansienlik laat daal het.

Gegewe die omstandighede waarin Feiyue werk, is dit nie verbasend dat dit fisiek veeleisend is nie.

“Aanvanklik was my hande ongelooflik seer ná ʼn dag se werk. Ek kon skaars my eetstokkies gebruik om te eet, maar dit is nou al baie beter,” lag hy.

“Ons werk om die natuurskoon te bewaar, so ek doen my werk met ywer.”

Hy sê hy sal so lank nodig langs die berghang bly abseil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Hy kry seker n lekker stewige “danger-pay” en mens sou niks minder verwag nie. Ek sal dit nie kan doen nie en my hoogtevrees sal n hoogtepunt bereik

Corne123 ·

Ek sal so n werk baie geniet die rommel optel nie so baie nie maar 400m in die lig en da niemand wat jou pla nie net jy en die natuur al te lekker

Danny ·

Mense is darem maar aaklikge goed. Van alles in die diereryk is ONS op aarde Geskep en Geskape om na God se Skepping om te sien. Skandelik dat mense so optree. Dankbaar vir helde soos Yang Feiyue. Mag meer mense sy voorbeeld volg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.