Spinnekop lê eiers in man se toon tydens vakansie

Wolfspinnekop (Foto: Raphaël Poupon, eie werk via Wikimedia Commons)

Colin Blake, wat saam met sy vrou met vakansie op ʼn passasierskip was om hul huweliksherdenking te vier, was geskok toe hy ontdek ʼn spinnekop het eiers in sy toon gelê – insluitend een wat uitgebroei het.

Colin, van Cramlington in Northumberland, het ʼn probleem met sy toon begin ervaar toe hulle die vakansie in Marseille, Frankryk, geniet het, berig die BBC. Hy het aanvanklik gedink dit is sy nuwe sandale wat sy toon druk.

Toe dit egter pers verkleur het, het hy die skip se dokter besoek. Die dokter moes sy toon oopsny en het ongewone vreemde voorwerpe, wat soos teeblare gelyk het, uit sy toon verwyder.

Dit was egter eiers wat deur ʼn wolfspinnekop gelê is. Dié spesie is inheems aan Peru, maar word nou in die suide van Frankryk aangetref ná dit op vragskepe aangekom het.

Die spinnekop het Colin se toon gebyt en dit verdoof voor dit eiers in die toon gelê het. Hy het dus nie ʼn idee gehad wat gebeur het nie.

Terug in Engeland, is Colin in die hospitaal opgeneem en moes antibiotika neem. Die swelling het afgeneem, maar die spinnekop se merke kan nog duidelik op sy vel gesien word asook waar die gif sy toon besmet het. Sy toon het geel geword toe dit begin gesond word het.

Vier weke later het hy weer ʼn “vreemde voorwerp” in sy toon opgemerk. Een van die spinnekoppe het uitgebroei.

Hy het weer antibiotika gedrink en die dokters het weer sy toon oopgesny om ʼn einde te bring aan die bisarre voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.