Spookagtige meesterstuk vir miljoene verkoop

Een van die eerste eksemplare van die bekende gotiese riller Frankenstein is onlangs vir R17 miljoen opgeveil. Dit is die meeste geld wat nog ooit vir ʼn gedrukte werk deur ʼn vrou betaal is.

Mary Shelley, skrywer van Frankenstein, was maar 18 jaar oud toe sy gedroom het van ’n “bleek student” en die “afskuwelike fantasie van ’n man” wat hy geskep het. Min het sy besef dat hierdie droom jare later vir miljoene rand sou verkoop.

Die opgeveilde werk is een van 500 eksemplare van Frankenstein wat in 1818 gedruk is, en die eerste om sedert 1985 opgeveil te word.

’n Woordvoerder van die afslaer Christie’s, wat die boek opgeveil het, verduidelik dat die eerste uitgawe in sy oorspronklike omslag ongelooflik broos en gevolglik baie skaars is. “ ’n Kopie soos dié is baie kosbaar vir versamelaars, veral as dit in ’n goeie toestand is. Oor die algemeen is daar ʼn goeie mark vir hierdie tipe werke.”

Die afslaer het aanvanklik voorspel dat bieërs tussen $200 000 (R2,9 miljoen) en $300 000 (R4, 4 miljoen) vir die kopie sou opdok. Dit was dus ʼn groot verrassing toe die boek vir $1,17m (R 17 miljoen) verkoop. Bieërs van reg oor die wêreld het aan die veiling deelgeneem.

Die skrywer Jane Austen het die vorige rekord gehou vir die meeste wat vir ʼn gedrukte werk deur ʼn vrou betaal is, met die boek Emma wat in 1816 gedruk en in 2008 vir £150 000 (R2, 2 miljoen) verkoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Daai foto lyk nie soos Frankenstein nie. Ek eers gedink dis ‘n skildery, maar dis dan ‘n boek??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.