Star Wars-aanhangers bou Mandalorian-ruimteskip in Siberië

Ayaal Fyodorov by die Razor Crest (Foto: Julio Sierra/Facebook)

Star Wars-aanhangers in Rusland het ʼn yslike replika van ʼn ruimteskip van die opvolgreeks The Mandalorian gebou en dit in ʼn park in een van die wêreld se koudste stede ten toon gestel.

Die model van die Razor Crest – ʼn gewapende vliegskip wat deur die televisieprogram se geheimsinnige losprysjagter gebruik word om deur die sterrestelsel te reis, is nou op ʼn sneeubedekte heuwel in ʼn park in die oostelike Siberiese stad Yakutsk te sien.

“Die skip weeg meer as ʼn ton,” het Ayaal Fyodorov (28) aan AFP gesê. Dit het hom en sy mede-cosplayers sowat drie maande geneem om te bou.

Die wetenskapfiksie tuig is ongeveer 4 m hoog en is gemaak van veselglasbord, metaal en plastiekskuim.

Die groep wou baie noukeurig die ruimteskip se binnekant herskep en dit het selfs ʼn oprit en ʼn sitplek vir Baby Yoda, ʼn klein wese met wie die hoofrolspeler, Din Djarin, ʼn onwaarskynlike band vorm.

Fyodorov het gesê hy en sy vriende was “geskok” om te sien hoe die skip in die reeks se tweede seisoen verwoes word.

“Ons was baie gemotiveerd om dit te bou – asof ons self in die TV-reeks is en die skip moes herbou,” het hy bygevoeg.

Die projek het hulle na raming 750 000 roebels (sowat R152 000) uit die sak gejaag.

Fyodorov het eers sy spaargeld gebruik, toe sy motor verkoop en daarna gewone mense en maatskappye gevra om ʼn bydrae te maak.

Hy is baie trots op die eindresultaat. “Dit is die enigste soortgelyke cosplay-skip in die wêreld,” het hy gesê.

Die skip het nou boonop ook ʼn toeristeaantreklikheid geword en word deur kenners geloof in ʼn streek wat bekendstaan vir sy opbloeiende filmbedryf.

“Ek het regtig nie gedink dit gaan só goed wees nie,” het Semyon Shishigin, hoof van Taragai Cinema, ʼn plaaslike filmateljee, gesê. Hy het sy gesin onlangs na die park gebring om die skip te sien. “Ek het gesien daar is baie plaaslike inwoners en meeste van hulle het net gekom om die skip te kom kyk. Dis fantasties!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n hoogs ontwikkelde land soos Rusland se geldeenheid MINDER werd is as SA se Rand?

Danie ·

Want totdat hulle in die laat 1990’s tot hulle sinne gekom het en meer kapitalistiese geraak het. Het hulle ook gedink (soos die ANC vandag nog [ja uiters primitief]) dat dit net nodig is om geld te druk om meer geld te hê.

Martie Smartie ·

Dis nou cool. Die ontwerp is net nie so lekker aerodinamies nie, maar mens kan seker met n baksteen ontwerp ook deur die ruimte vlieg, daar is mos nie weerstand nie. Baie netjies gedoen!

summie ·

En dit in ‘n land waar daar baie arm mense is wat nie kos het om te eet nie !! Skokkend dat geld so gemors kan word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.