Steve Jobs se CV vol foute te koop

Steve Jobs (Foto: Matthew Yohe via Wikimedia Commons)

ʼn CV vol tikfoute van ʼn aansoeker wat sê hy het “geen telefoon nie” en “waarskynlik nie vervoer om by die werk te kom nie”, sal moontlik sommer vinnig in die asblik beland. In dié geval kan die CV dalk ʼn paar honderd duisend rand op ʼn veiling haal.

Steve Jobs se CV, wat hy in 1973 by ʼn onbekende maatskappy ingedien het vir ʼn onbekende pos, kan waarskynlik tot $50 000 (ongeveer R578 000) op ʼn veiling haal, berig The Guardian. Dit is net drie jaar voor hy en Steve Wozniak Apple gestig het.

Die eenbladsydokument sal volgende maand onder die hamer kom tydens ʼn veiling van RR Afslaers. Die aansoek dui die aansoeker se naam as “Steven jobs” met sy adres as “reed college” in Oregon. Jobs het een semester by dié universiteit voltooi voor hy sy studies laat vaar het, berig The Telegraph.

Die aansoek is met die hand ingevul. Op die vraag om ʼn telefoonnommer te verskaf, staan daar “none”, en in antwoord op die vraag op toegang tot vervoer, “possible, but not probable”. Daar is ʼn duidelike “yes” op die vraag of hy oor rekenaarvaardighede beskik.

Onder die afdeling “Spesiale vermoëns” het Jobs geskryf: “electronics tech or design engineer. digital.*from Bay near Hewitt-Packard” (met verwysing na Hewlitt-Packard).

ʼn Mac OS X-handleiding wat Jobs in 2001 geteken het, word ook op die veiling te koop aangebied. Dit sal waarskynlik $25 000 (byna R290 000) haal.

Jobs is op 5 Oktober 2011 oorlede aan pankreaskanker.  Hy het in Augustus 2011 sy uittrede as bestuurshoof van die Apple-maatskappy aangekondig. Met Jobs aan die stuur van Apple, het onder andere die iPod-speler, die iPhone en die iPad-tabletrekenaar die lig gesien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Joey ·

Steve jobs het die Apple ook begin op n gelieg en bedrieg, diefstal soos die perd van FB. Micosoft was die beginer, Samsung ontwerper, en Apple het net gevat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.