Streng dieet want vettie sit vas in die honde-deurtjie

Drax en die hondedeurtjie (Foto: Charmaine Hulley/Facebook)

Geen meer snoepgoed vir dié arme brak nie.

ʼn Hond in Australië is op ʼn streng dieet nadat hy in die honde-deurtjie vasgesit en dit gebreek het. Foto’s van Drax wat met die deurtjie om sy lyf staan laat sosialemediagebruikers lekker lag.

Volgens The Dodo was Drax ʼn straatbrak in Queensland, angsbevange en ondervoed totdat Charmaine Hulley se sussie hom gevind het. “My sussie het hom ʼn paar jaar gelede buite ʼn supermark raakgesien. Hy het net daar opgekrul gelê. Hy was baie maer en onversorgd,” het Hulley aan The Dodo gesê. “Sy het hom in haar motor gesit en hy het net verskrik gesit en wou nie vir enigiemand kyk nie.”

Die twee sussies het in daardie stadium saam gebly en besluit om die hond aan te neem. Dit was twee jaar gelede. Vandag is Drax ʼn gelukkie, gesonde hond wat lekker kos kan eet. Dalk té veel lekker kos.

Volgens Unilad het Hulley se kêrel, Taylor, “baie mensekos gegee soos steak en KFC”, sonder dat sy daarvan geweet het. Toe Drax dus onlangs saam met Hulley by ʼn ander huis gaan kuier het, het hy in die honde-deurtjie vasgesit en dit uit sy skarniere geruk. “Sy eie deurtjie is baie groter en hy het nie besef hy gaan in dié een vassit nie.”

Foto’s van die hond wat “tot in die afgrond in bederf is”, aldus sy eienaar, wat met die honde-deurtjie om sy lyf rondloop, is wyd op Facebook gedeel. “Dankie vir al die liefde aan almal vir Drax, ons vettie. “Ons het hom as ʼn straatbrak aangeneem. Nou is hy baie gelukkig en warm en geliefd … dalk bietjie té geliefd …” skerts sy eienaar.

Die foto’s het duisende reaksies en kommentare uitgelok.

“Laat hierdie deurtjie my vet lyk?” het een gebruiker geskerts. “Ek is dol daaroor dat hy so ewe met die deurtjie rondloop asof niks verkeerd is nie,” skryf ʼn ander.

Drax is nou op ʼn streng dieet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.