Stryery oor vrou se daaglikse skoonmaakroetine

Argieffoto (Foto: Mariakray/Pixabay)

ʼn Professionele skoonmaker het ʼn stryery op sosiale media ontketen ná sy haar “ononderhandelbare” skoonmaakroetine gedeel het wat volgens haar elke dag gedoen moet word.

Kacie Stephens is die hoof van ʼn maatskappy genaamd The Big Clean Co in Australië en deel video’s van haar avonture op haar TikTok-profiel, @thebigcleanco. Sy het byna 500 000 volgelinge.

Sy het onlangs vyf van die top-takies gedeel wat volgens haar elke dag gedoen moet word as jy wil hê jou huis moet skoon bly. Almal stem egter nie met haar saam nie. Sy het ʼn debat ontketen in die kommentaargedeelte van haar video en sommige reken dis “onrealisties”.

“Ek is ʼn professionele skoonmaker en dié is my vyf ononderhandelbare skoonmaak-takies,” sê Kacie. “Maak jou bed elke oggend op; mop of stofsuig die areas wat die meeste verkeer het; tel klere van die grond af op, selfs al is dit net om dit in die mandjie te gooi; moet nooit vandag se skottelgoed vir môre los nie; en maak jou toonbank skoon ná elke ete.”

Die video is vinnig byna 800 000 keer gekyk en Kacie is oorval met kommentare.

Een persoon skryf: “Ek is trots daarop om te sê ek doen dit elke dag en het dit nog altyd daagliks gedoen.” ʼn Ander sê: “Ek is nie ʼn professionele skoonmaker nie, maar hierdie dinge is doodgewoon. Ek stofsuig daagliks, die skottelgoed word gewas sodra dit gebruik is … maklik.”

Nog ʼn persoon het geskryf: “Uitstekende wenke. Dis glad nie moeilik nie. Ek is verstom oor sommige van die kommentare; mens sou dink dis normaal om net skoon te maak waar jy gemors het.”

“Ek doen dit elke dag en ek het vier kinders,” het ʼn ander persoon geskryf. “Ek word eerder in ʼn netjiese huis wakker as ʼn morsige een.”

Die negatiewe kommentaar het egter ook vinnig ingestroom. “Nee dankie. Ek bewonder diegene wat dit doen, maar ek het ander prioriteite.”

Iemand anders skryf: “Dit klink goed en ek hou daarvan, maar dis nie realisties vir sommige van ons nie.”

“Jip, dit sal ʼn professionele skoonmaker se werk baie makliker maak as hulle opdaag,” het nog iemand laat weet.

Het jy ʼn paar ononderhandelbare takies wat daagliks in jou huis gedoen moet word?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nuustak

Dit is nie vir my so onrealisties nie, ons is so groot gemaak om elke dag daardie 5 dinge te doen. Dit vat glad nie so lank nie en dit hou jou huis basies netjies

Jojo

Sjo dit klink vir my na die doodgewone normale takies. Wonder hoe lyk huise dan waar dit ongewoon is

Patch

Alles natuurlike doodgewone take. My huis (of dan die areas met die meeste verkeer) word net nie elke dag gestofsuig nie.

Johan D

Daar behoort net vier te wees want wat soek klere op die vloer?
Daar is drie plekke vir klere, in die kas, aan die bas of in die was!