Studie wys dolfyne praat met mekaar

Foto: Pixabay, Victor Melba

Foto: Pixabay, Victor Melba

ʼn Onlangse studie deur die St. Petersburg Politegniese Universiteit in Rusland het vasgestel dolfyne ‘praat’ met mekaar deur middel van ʼn hoogs-ontwikkelde gesproke taal.

Dr. Vyacheslav Ryabov, die studieleier, het aan The Independent gesê dolfyne gebruik dié taal om met mekaar te kommunikeer.

Navorsers weet reeds lankal dolfyne is intelligente diere wat mekaar kan verstaan, maar dit is die eerste keer dat navorsers opmerk dat dolfyne wel met mekaar ‘praat’.

Hulle het twee Swartseebottelneusdolfyne vir meer as 20 jaar lank bestudeer en opnames van die geluide wat die dolfyne maak oor ʼn wye reeks golflengtes, waarvan baie nie deur die mens gehoor kan word nie, intensief nagevors.

Dolfyne kan glo sinne, met tot vyf woorde, aan ander dolfyne kommunikeer.

Hieruit het dit eerstens geblyk die een dolfyn sal luister terwyl die ander een “praat” en omgekeerd. Hulle val mekaar nie in die rede nie. Die navorsers het ook gevind die dolfyne herhaal nie wat die ander een kommunikeer nie, maar dat nuwe woorde en sinne telkemale gevorm word.

Die navorsers vermoed dolfyne beskik dus oor ʼn hoogs-ontwikkelde gesproke taal.

Al gebruik die dolfyne golflengtes wat sowat 40 keer wyer is as wat die menslike oor sinvol kan onderskei, is dit tegnologies moontlik om toerusting te bou wat die dolfyne se spraak kan namaak. Dit is dus tegnies moontlik om met die dolfyne gesprek te voer, maar dan moet eers vasgestel word wat die woorde in die dolfyne se tale beteken.

Bron: The Independent

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

humor ·

Vra maar ons beesboere wat naby hul beeste is. Hul praat ook met mekaar. Dit kan gerus bestudeer word.

Ansie Geldenhuysg ·

Nog altyd gedink ek was ‘n dolfyn in my vorige lewe. Sou nou ook graag een wou wees, maar om net na hulle te kyk as hulle swem is genoeglike genot.

Santjie stoof ·

Alle mense/diere “praat” met mekaar. Blaf, fluit, miaau, balk, kekkel en skinder…
Jip die wereld gons van al die kommunikasie…… niks nuut nie

Karen van Zyl ·

Maar alle diere praat op een of ander manier met mekaar? Die dat ek ‘n vegetarier is al van ouderdom 12, alle diere wys liefde vir mekaar op een of ander manier, ek sien dit dan elke dag. Ek praat nou nie van goggas nie maar ek is seker daar is een of ander kommunikasie daar ook.

John ·

En die voeltjies in die boom by my agterdeur… Vroegoggende is dit ‘n kabaal as die kinders nie betyds hul skoolboeke ingepak kry nie. Die bosduif naby het nie geduld nie nie en koer grof, ‘Kry nou klaar… en kry jul ry… ek’s nog vaaaak’…

E.K. ·

John, oulike kommentaar! Jy moet die meerkatte by my hoor gesels. Ons weet ook hoe ape en bobbejane gesels en laatmiddag kry die kleintjies gou pak met plathand (geen wette wat hul verbied, plus daai kleintjies LUISTER!) en word “vertel” om nou tot ruste te kom. Ek dink waaroor die berig eintlik gaan is dat dolfyne hoogs inteligente wesens is, wat baie gespesialiseerde “taal praat” en dat dit met die hulp van bou van tegnologiese toerusting wel sou kon “vertaal” word.

Reinhardt ·

Die mense wat sê dit is common sense en niks nuuts nie… verstaan julle die berig? Daar is ‘n aansienlike groot verskil tussen geluide maak (blaf, grom) om aandag te kry van ander diere/mense teenoor om met mekaar te kommunikeer met woorde en sinne.

GERDA ·

Sal dit nie wonderlik wees as ons mense soos dolfyne kan kommunikeer, mekaar nie in die rede val nie en na mekaar luister

Waterkind ·

Dolfyne is fantastiese soogdiere-fassinerend, tergend, spelerig, mens kan sommer die intelligensie sien op hul “laggende” gesigte!

pietskiet ·

Hoop dai diere wat so lekke met mekaar praat weet as die regeering dit weet gaan daar belasting gevra word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.