Stuur jou naam Mars toe!

Só lyk jou “instapkaart” vir die sending na Mars

Jy kan dalk nie self Mars besoek nie, maar jy kan nou seker maak jou naam word na dié rooi planeet gestuur!

Nasa gee aan mense wêreldwyd die geleentheid om hul name op ʼn lys in te vul wat aan boord die Mars Rover 2020-sending na Mars gestuur gaan word. Die Amerikaanse ruimteagentskap reik dan selfs ʼn “instapkaart” uit vir persone wat geregistreer het om hul name na Mars te stuur.

Volgens Nasa sal die lys name op ʼn mikroskyfie geplaas word wat saam met die Mars-voertuig sal reis.

“Wanneer ons #Mars2020 Rover in 2021 op die Rooi Planeet land, sal dit ʼn mikroskyfie bevat met die name van miljoene mense van planeet Aarde,” het Nasa Donderdag op Twitter gesê. “Daar is 20 dae oor om jou instapkaart te kry en seker te maak jou naam vlieg saam.”

Meer as 9,07 miljoen mense het reeds geregistreer vir die “reis” na Mars.

“Ons wil hê almal moet deel wees van dié ontdekkingsreis,” het dr. Thomas Zurbuchen, vennootadministrateur vir Nasa se direktoraat in Washington DC, gesê, aldus die Osprey Observer.

Die 1 000 kg-voertuig sal onder andere na tekens van mikrobiese lewe op Mars soek; die planeet se klimaat en geologie ondersoek en monsters versamel wat na Aarde teruggestuur kan word.

Die Mars Rover 2020 sal na verwagting op 17 Julie 2020 vertrek en op 18 Februarie 2021 op Mars aankom.

Klik hier om jou naam na Mars te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Posduif ·

Die boere moet maar versigtig wees vir hierdie een. Die SA regering keur dalk net hulle “aansoek om burgerskap” na mars goed en as hulle weer hul posbusse oopmaak sien hulle dan dat hulle na mars ge-emigreer het!!! Dit sal ‘n paar kaders baie bly maak.

Judge Dredd ·

Ek vertrou my naam is alreeds onder die 9.07 miljoen. So ek kry ‘n free ride.

Ameli ·

Nee dankie my naam op aarde vir n rede. God my hier gesit ek blom waar ek geplant is. Nie op mars nie.

kraai ·

HA-HA te oud vir n free ride!!!!! as ek nie kan gaan nie, sorry dan stuur ek nie my naam mars toe nie. LOL

Jozi ·

Ek lees die opskrif en raak erg opgewonde – “Stuur jou man Mars toe!”
Sit daar en dan die leesbrilletjie op vir nodige instruksies.
Naam… Man…. ai toggie.
Sal maar ander plan moet maak met die ou!

Yankee ·

Julle ouens wil so graag “vlug” soos ek destyds. Nou jul kans!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.