Stuur vir jou vyand…blinkertjies

G2800Mathew Carpenter het sowat ʼn week gelede ʼn webtuiste begin waar jy ʼn koevert vol blinkertjies bestel en dit vir jou vyande stuur. Dié webtuiste het egter baie vinnig vir Carpenter ʼn groot kopseer geword.

Time.com berig dat die webtuiste so gewild geraak het dat Carpenter die diens vir eers opgeskort het en nou die webtuiste gaan verkoop. “Haai almal, ek is die stigter van die webtuiste,” het Carpenter op Product Hunt geskryf. “Hou asb op om die aaklige blinkertjiesproduk te koop – ek is siek daarvan om dit te hanteer. Die uwe, Mat.”

Op die webwerf shipyourenemiesglitter.com word mense aangemoedig om $9,99 (sowat R115) te betaal waarna ʼn koevert vol blinkertjies na hul vyande, enige plek in die wêreld, gestuur sal word. Volgens die webwerf sal hulle soveel blinkertjies stuur dat die vyand vir weke daarna nog orals blinkertjies sal vind. Die koevert sluit ook ʼn kort briefie in om vir die persoon te sê hoekom hy of sy die blinkertjies ontvang het.

Die webtuiste word intussen opgeveil op Flippa.com. Die hoogste bod het met die plaas van die artikel reeds op $61,100 (nagenoeg R706 000) gestaan. By die beskrywing staan daar dat die webwerf in vier dae meer as $20,000 (R230 000) se verkope en meer as 2,5 miljoen besoeke gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.