Talle JFK-uitstallings herdenk sluipmoord

Die dag van die sluipmoord Foto: newsbusters.org

Die dag van die sluipmoord Foto: newsbusters.org

Met die 50ste herdenking van oud-pres. John F. Kennedy se sluipmoord later vandeesmaand het baie museums in die VSA begin om items uit te stal wat te make het met dié dag, berig ABC News op sy webblad.

Hieronder tel die limousine waarin Kennedy en sy vrou, Jacqueline, saam met die goewerneur van Texas, John Connally, asook sy vrou, Nellie, op 22 November 1963 in Dallas gery het toe Kennedy doodgeskiet is deur Lee Harvey Oswald. Dié motor word uitgestal in die Henry Ford-museum in Dearborn, Michigan.

Die vlag wat oor die president se kis gehang het vir sy begrafnis, asook die saal, swaard en stewels van die “ruiterlose perd” tydens sy begrafnisoptog is te sien in die Kennedy-museum in Boston.

Die pak wat Connally gedra het met die koeëlgate en bloedkolle van toe hy ook ernstig in die skietery beseer is, is te sien in die Lorenzo de Zavala-staatsargief en biblioteek in Austin.

Die bloedbesmeerde klere wat Jacqueline gedra het en die geweer wat Oswald gebruik het, word nie uitgestal nie.

Die Daily Mail het vroeër vanjaar berig die sluipmoord op die president bly steeds ’n onderwerp van bespreking onder navorsers.

’n Opname deur AP vroeër vanjaar het getoon die meeste Amerikaners glo steeds sy sluipmoord was die gevolg van ’n sameswering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.