Talle reken bruid gaan haar nek breek met dié skoene

Avital Nevies van Londen, Engeland, spog met haar nuwe bruilofskoene. (Foto: Skermgreep uit video)

Vir elke bruid is mode en gemak twee belangrike faktore wanneer daar op skoene vir die groot dag besluit word, maar ʼn bruid van Londen, Engeland, se “gemaklike skoene” het nou die internet aan die gons.

Avital Nevies se tekkies, wat sy spesiaal vir haar bruilof laat maak het, is sowat 10 cm hoog en het haar £100 (sowat R2 000) uit die sak gejaag.

Volgens Nevies, wat die skoene in ʼn TikTok-video onthul het, het sy aanvanklik spykerhakskoene (stilettos) deur die ontwerper Yves St. Laurent vir die groot dag aangeskaf, maar later besluit om eerder tekkies te dra sodat sy gemakliker kan wees.

“Ek het pragtige YLS-spykerhakskoene gekoop, maar mense sê dit is baie ongemaklik om die hele aand in hoë hakke deur te bring,” verduidelik Nevies in die video.

Nevies wou egter nie die lengte wat die spykerhakke gebied het, inboet nie, en daarom het sy dié hemelhoë tekkies gekies sodat haar trourok nie op die grond sleep nie.

“Die skoene is regtig gemaklik. Ek kan daarin dans en rondbeweeg,” het sy gesê terwyl sy met die skoene aan haar voete in haar tuin rondspring.

Talle internetgebruikers het egter hulle kommer uitgespreek dat Nevies “haar nek of enkels kan breek” in dié skoene.

“Met my geluk sal ek nog my enkel breek,” het een persoon gesê.

“Maak seker jy het ondersteuning vir jou enkels. Ek het ʼn soortgelyke paar in swart en as die skoen onder jou enkel is, kan jou voet uitglip en jy kan val,” het nog ʼn persoon gemaan.

Avital Nevies van Londen, Engeland, spog met haar nuwe bruilofskoene. (Foto: Skermgreep uit video)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.